Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 35:21-34 Bybel vir Almal (ABA)

21. of wanneer iemand ’n vyand is van iemand anders en hy slaan die persoon dood, dan moet die persoon wat hom doodgeslaan het, ook sterf, dit is seker. Hy is ’n moordenaar, en die naaste familielid van die persoon wat gesterf het, moet die moordenaar doodmaak waar hy hom kry.

22. “Maar iemand is miskien nie ’n vyand van iemand anders nie, en hy stamp hom skielik of hy gooi hom per ongeluk raak met iets.

23. Of hy gooi ’n gevaarlike klip, hy sien nie waarnatoe die klip gaan nie, en hy gooi iemand raak wat nie sy vyand is nie, iemand wat hy nie wil seermaak nie. As daardie persoon sterf,

24. dan moet die volksvergadering oordeel tussen die persoon wat die ander een doodgemaak het en die familielid van die persoon wat dood is.

25. Die volksvergadering moet die persoon wat die ander een doodgemaak het, red van die familielid van die persoon wat dood is. Die vergadering moet hom terugstuur na die asielstad waarnatoe hy gevlug het, en hy moet daar bly totdat die hoëpriester gesterf het wat met die gewyde olyf-olie gesalf is.

26. “Maar as die persoon wat die ander een doodgemaak het, buite die grens gaan van die asielstad waarnatoe hy gevlug het,

27. en die familielid van die persoon wat dood is, kry hom en hy maak hom dood, dan is die familielid nie skuldig omdat hy hom doodgemaak het nie.

28. Wanneer die persoon wat die ander persoon doodgemaak het, in die asielstad bly totdat die hoëpriester dood is, dan mag hy daarna teruggaan na sy grond.

29. Dit is wat julle en julle nageslag moet doen oral waar julle woon.

30. “Wanneer iemand ’n ander mens doodmaak, en getuies sê hulle het dit gesien, dan moet die moordenaar sterf. Maar wanneer daar net een getuie is, dan mag die moordenaar nie sterf nie.

31. Julle moenie geld neem van iemand omdat hy wil hê jy moet sê ’n moordenaar moenie sterf nie, want ’n moordenaar móét sterf, dit is seker.

32. Julle moet ook nie geld neem omdat ’n persoon wat na ’n asielstad gevlug het, wil hê jy moet sê hy mag teruggaan om op sy grond te woon nie. Hy moet in die asielstad bly totdat die hoëpriester gesterf het.

33. Julle moenie die land ontwy waar julle woon nie, want moord ontwy ’n land. Niemand kan versoening doen vir die land waar iemand vermoor is nie. Die moordenaar moet ook sterf, net dít sal vir die land versoening doen.

34. Julle moenie die land waar julle woon, onrein laat word nie. Dit is die land waar Ek self ook woon, want Ek woon tussen die Israeliete.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 35