Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 31:13-27 Bybel vir Almal (ABA)

13. Moses en die priester Eleasar en die leiers van die volk het na die leër buite die kamp gegaan.

14. Moses was kwaad vir die offisiere van die leër. Die offisiere was die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne wat teruggekom het van die oorlog.

15. Moses het vir hulle gesê: “Het julle al die vroue laat lewe?

16. Dit is die vróúe wat die Israeliete ontrou laat word het aan die Here. Dit was Bileam wat gesê het die Israeliete moet vir Baäl-Peor dien, en hulle het dit gedoen. Daarom het baie van die volk van die Here gesterf.

17. Kom, julle moet nou elke seun doodmaak en elke vrou wat klaar by ’n man geslaap het.

18. Maar julle mag al die dogters wat nog nie by ’n man geslaap het nie, laat aanhou lewe, julle mag hulle vir julleself neem.

19. Julle moet julle tente buite die kamp opslaan en sewe dae daar bly, elkeen wat iemand doodgemaak het en elkeen wat aan ’n dooie liggaam geraak het. Julle en julle gevangenes moet julle reinig op die derde dag en op die sewende dag.

20. Julle moet ook al julle klere reinig, en al die goed van vel en bok-haar en hout.”

21. Die priester Eleasar het gepraat met die manne wat oorlog gaan maak het. Hy het vir hulle gesê: “Dit is wat julle altyd moet doen, die Here het vir Moses gesê julle moet dit doen:

22-23. Julle moet alles wat nie kan verbrand nie, in vuur reinig. Dit is die goud, silwer, brons, tin en lood. Daarna moet julle dit ook reinig met die water wat mense rein kan maak. Julle moet die dinge wat kan verbrand, met water reinig.

24. Julle moet julle klere was op die sewende dag, dan sal julle rein wees. Daarna mag julle terugkom in die kamp.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy en die priester Aäron en al die familieleiers moet die goed en die persone tel wat julle gevat en saamgebring het, al die mense en diere.

27. Dan moet jy dit in twee dele verdeel. Gee een helfte vir die manne wat oorlog gaan maak het en een helfte vir die hele volk.

Lees volledige hoofstuk Numeri 31