Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:8-22 Bybel vir Almal (ABA)

8. Bileam het vir hulle gesê: “Julle moet vannag hier slaap, dan sal ek môre vir julle sê wat die Here vir my sê.”Die amptenare van Moab het toe daar by Bileam gebly.

9. God het na Bileam toe gekom en vir hom gevra: “Wie is hierdie mans by jou?”

10. Bileam het vir God gesê: “Balak seun van Sippor, koning van Moab, het vir my ’n boodskap gestuur en gesê:

11. ‘Hier het ’n volk uit Egipte gekom, hulle is baie, hulle is oral in die hele land. Nou moet jy kom en jy moet hulle vir my vervloek. Miskien sal ons dan teen hulle oorlog kan maak en hulle uit die land jaag.’ ”

12. God het vir Bileam gesê: “Jy moenie saam met die boodskappers gaan nie. Jy moenie die volk vervloek nie, want Ek het hulle geseën.”

13. Toe Bileam die volgende oggend opstaan, het hy vir die amptenare van Balak gesê: “Julle moet teruggaan na julle land, want die Here wil nie hê dat ek saam met julle moet gaan nie.”

14. Die amptenare van Moab het toe gereedgemaak en na Balak toe gegaan en vir hom gesê: “Bileam het gesê hy wil nie saam met ons kom nie.”

15. Balak stuur toe weer amptenare na Bileam toe. Hulle was meer en belangriker amptenare as die eerste amptenare.

16. Toe die amptenare by Bileam kom, het hulle vir hom gesê: “Balak seun van Sippor sê: Kom na my toe, jy moenie dat iemand jou keer om te kom nie,

17. want ek sal jou baie ryk maak en ek sal alles doen wat jy sê. Kom vervloek nou asseblief hierdie volk vir my.”

18. Bileam het geantwoord en vir die amptenare van Balak gesê: “Ek moet doen wat die Here vir my sê, ook as Balak vir my sy huis vol silwer en goud gee. Ek kan nie minder doen nie en ek kan ook nie meer doen nie.

19. Maar julle moet nou ook vannag hier bly, sodat ek kan hoor wat die Here nog vir my wil sê.”

20. God het in die nag na Bileam toe gekom en vir hom gesê: “As die mans gekom het om jou te roep, dan moet jy gereedmaak en saam met hulle gaan. Maar jy moet net doen wat Ek vir jou sê.”

21. Toe Bileam die volgende oggend opstaan, het hy sy donkie-merrie opgesaal en saam met die amptenare van Balak gegaan.

22. Maar God het baie kwaad geword toe Bileam gaan. Die Engel van die Here het in die pad gaan staan om vir Bileam te stop. Bileam het op sy donkie gery, en sy twee slawe was by hom.

Lees volledige hoofstuk Numeri 22