Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:21-37 Bybel vir Almal (ABA)

21. Toe Bileam die volgende oggend opstaan, het hy sy donkie-merrie opgesaal en saam met die amptenare van Balak gegaan.

22. Maar God het baie kwaad geword toe Bileam gaan. Die Engel van die Here het in die pad gaan staan om vir Bileam te stop. Bileam het op sy donkie gery, en sy twee slawe was by hom.

23. Die donkie het gesien dat die Engel van die Here in die pad staan, en dat die Engel sy swaard in sy hand het. Die donkie draai toe uit die pad en gaan in die veld in, maar Bileam het die donkie geslaan om haar te laat terugdraai na die pad.

24. Toe gaan staan die Engel van die Here in ’n nou paadjie tussen die wingerde, daar was ’n muur langs elke kant van die paadjie.

25. Toe die donkie die Engel van die Here sien, het sy baie naby langs die muur probeer verbyloop en sy het Bileam se been teen die muur vasgedruk. Bileam het die donkie weer geslaan.

26. Die Engel van die Here gaan toe verder en gaan staan in ’n nou plek waar ’n mens nie kan wegdraai nie, nie links of regs nie.

27. Toe die donkie weer die Engel van die Here sien, het sy gaan lê onder Bileam. Bileam het baie kwaad geword en hy het haar geslaan met ’n stok.

28. Die Here maak toe die bek van die donkie oop sodat die donkie kan praat, en sy het vir Bileam gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Hoekom het jy my nou al drie maal geslaan?”

29. Bileam het vir die donkie gesê: “Jy maak my baie kwaad. As ek nou ’n swaard in my hand gehad het, dan het ek jou doodgemaak.”

30. Toe sê die donkie: “Ek is jou donkie, jy het altyd tot vandag toe op my gery. Het ek voorheen dit met jou gedoen?”Bileam het gesê: “Nee, jy het nie.”

31. En toe maak die Here Bileam se oë oop, en hy sien die Engel van die Here staan in die pad, die Engel het sy swaard in sy hand vasgehou. Bileam het gebuig en hy het gaan lê met sy gesig teen die grond.

32. Die Engel van die Here het vir hom gesê: “Hoekom het jy die donkie drie maal geslaan? Ek het self gekom om jou te stop, want jy sal nie by My kan verbykom nie.

33. Maar die donkie het My gesien en sy het drie maal weggedraai. As sy dit nie gedoen het nie, dan sou Ek jóú doodgemaak het, maar Ek sou háár laat aanhou lewe het.”

34. Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek het verkeerd gedoen, ek het nie geweet dat U voor my in die pad staan nie. Maar as U nie wil hê dat ek verder moet gaan nie, dan sal ek teruggaan.”

35. Maar die Engel van die Here het vir Bileam gesê: “Nee, gaan saam met die mans, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”Bileam het toe saam met die amptenare van Balak gegaan.

36. Toe Balak hoor dat Bileam gekom het, het hy hom gaan ontmoet by die stad Ir-Moab, naby die Arnon-rivier, op die verste grens van die land.

37. Balak sê toe vir Bileam: “Ek het jou twee maal laat roep. Hoekom het jy nie die eerste maal gekom nie? Het jy gedink ek kan jou nie betaal en ryk maak nie?”

Lees volledige hoofstuk Numeri 22