Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:21-29 Bybel vir Almal (ABA)

21. Toe sê Moses vir die Here: “Daar is 600 000 manne hier by my wat oorlog kan maak, en U sê U sal vir hulle vleis gee en hulle sal ’n maand lank eet.

22. Is daar genoeg skape en beeste en bokke om vir hulle te slag? Sal al die vis in die see genoeg wees as ons dit kry en dit vir hulle bymekaarmaak?”

23. Die Here het vir Moses gesê: “Dink jy dat Ek dit nie kan doen nie? Jy sal nou sien of dit wat Ek gesê het, sal gebeur of nie.”

24. Moses het uitgegaan en hy het vir die volk gesê wat die Here gesê het. Toe het hy 70 van die leiers van Israel laat bymekaarkom en hy het gesê hulle moet rondom die tent staan.

25. Daarna het die Here in ’n wolk afgekom en Hy het met Moses gepraat. Die Here het van die gees geneem wat in Moses was, en Hy het dit in die 70 leiers gesit. En toe die gees in die 70 manne kom, het hulle soos profete gepraat. Maar hulle het dit net daardie een maal gedoen.

26. Twee manne, Eldad en Medad, het nie uitgegaan na die tent nie, hulle het in die kamp gebly. Hulle name was ook by die name van die 70 leiers. Toe die gees in hulle kom, het hulle daar in die kamp soos profete begin praat.

27. ’n Jongman het gehardloop en hy het vir Moses gaan sê dat Eldad en Medad besig is om in die kamp soos profete te praat.

28. Josua seun van Nun het vir Moses gewerk vandat hy klein was. Hy het gesê: “Meneer Moses, jy moet hulle stop.”

29. Maar Moses het gesê: “Is jy bekommerd oor my? Ek wens die Here gee vir sy hele volk van sy Gees, sodat hulle almal profete kan wees.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 11