Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 9:6-15 Bybel vir Almal (ABA)

6. Hulle het gesê:“U is die Here, U alleen, U het die hemel gemaak, ook die hoogste hemel, en al die sterre in die lug. U het die aarde gemaak en alles daarop, die see en alles daarin. U het lewe gegee vir almal, die sterre in die lug aanbid U.

7. U is ons God die Here, U het vir Abram gekies en U het hom gebring uit die stad Ur van die Galdeërs, U het vir hom die naam Abraham gegee.

8. U het gesien dat hy vir U glo, en U het ’n verbond gemaak met hom. U het belowe om vir hom en sy nageslag die land te gee, die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Jebusiete, die Girgasiete. U het gedoen wat U belowe het, want U doen altyd wat reg is.

9. “U het gesien dit gaan sleg met ons voorvaders in Egipte. U het geluister toe hulle na U geroep het by die Riet-see en gevra het dat U hulle moet help.

10. U het geweet dat die farao en al sy amptenare en al die mense in sy land slegte dinge gedoen het aan ons voorvaders, en U het tekens en wonderwerke gedoen by hulle. Almal moes weet wie U is en almal moet nóú weet wie U is.

11. U het ’n pad gemaak deur die see sodat ons voorvaders op droë grond daar kon deurloop, maar U het die mense wat vir hulle gevolg en gejaag het, in die water gegooi. Hulle het soos ’n klip in diep water gesink.

12. “U het hulle in die dag gelei met ’n wolk, en in die nag het vuur vir hulle lig gemaak op die pad waar hulle moes gaan.

13. U het afgekom na Sinai-berg, U het uit die hemel met hulle gepraat en vir hulle wette gegee wat reg en goed was.

14. U het vir hulle geleer van u gewyde Sabbatdag en U het vir Moses gestuur om wette vir hulle te gee.

15. Toe hulle honger was, het U vir hulle kos gegee uit die hemel, en toe hulle dors was, het U vir hulle water uit ’n rots laat kom. U het vir hulle gesê hulle moet kom en hulle moet die land vat wat U vir hulle belowe het.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 9