Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:23-31 Bybel vir Almal (ABA)

23. Ek het ook in daardie tyd gesien dat party Judeërs vroue gehad het wat uit die stad Asdod gekom het of wat Ammoniete of Moabiete was.

24. Party van hulle kinders het die taal van Asdod gepraat en die ander kinders het die tale van ander volke gepraat. Nie een kind kon die Judese taal praat nie.

25. Ek het met daardie Judeërs geraas. Ek het hulle vervloek en hulle geslaan en hulle hare uitgetrek. Ek het gesê hulle moet belowe dat hulle nie hulle dogters sal laat trou met die seuns van die heidene nie en dat hulle nie hulle seuns sal laat trou met die dogters van die heidene nie. Hulle moes ook belowe om nie self met die heidene te trou nie, en ek het gesê God is die getuie.

26. Ek het vir hulle gesê: “Koning Salomo van Israel het ook sonde gedoen toe hy getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie. Ja, daar is nie ’n volk wat ’n beter koning gehad het as hy nie. God was lief vir hom en God het hom koning laat word oor die hele Israel, maar sy vroue wat nie Israeliete was nie, het hom sonde laat doen.

27. En nou hoor ons dat julle hierdie baie verkeerde ding gedoen het en getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie. Julle is ontrou aan ons God.”

28. ’n Seun van Jojada, seun van die hoëpriester Eljasib, was getroud met ’n dogter van Sanballat die Goroniet. Ek het die seun weggejaag.

29. Ek het gebid en gesê: “My God, U moet onthou dat hulle die werk van priesters ontwy het. Hulle het nie gedoen wat die priesters en die Leviete belowe het nie.”

30. Ek het alles weggevat wat nie reg is nie, en ek het vir die priesters en die Leviete gesê hoe elkeen sy werk moet doen.

31. Ek het ook gesê wanneer die mense die hout en die eerste vrugte moet bring.Ek het gebid en gesê: “My God, U moet dit onthou, U moet dit goed laat gaan met my.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13