Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 4:25-35 Bybel vir Almal (ABA)

25. Die priester moet dan van die sonde-offerbok se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die brandoffer-altaar.

26. Dan moet hy al die vet van die bok op die altaar verbrand, soos die vet van die ete-offer. Die priester doen so versoening vir die sonde van die leier, en die Here sal hom vergewe.

27. “Miskien doen ’n gewone mens sonde, maar hy weet dit nie. Hy doen iets teen een van die gebooie van die Here en hy word skuldig.

28. Wanneer hy uitvind dat hy die sonde gedoen het, dan moet hy ’n gesonde bok-ooi gee om ’n offer te wees vir die sonde wat hy gedoen het.

29. Hy moet sy hand op die ooi se kop sit en hy moet die ooi slag op die plek waar hulle die brandoffer-diere slag.

30. Die priester moet dan van die ooi se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet al die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar.

31. Dan moet hy al die vet uithaal wat in die ooi is, soos hy die vet van die dier uithaal wat die ete-offer moet wees, en hy moet dit op die altaar verbrand. Dit ruik lekker vir die Here. Die priester doen so versoening vir die persoon, en die Here sal hom vergewe.

32. Wanneer die persoon ’n skaap gee om ’n sonde-offer te wees, dan moet hy ’n gesonde skaap-ooi gee.

33. Hy moet sy hand op die ooi se kop sit en hy moet haar slag op dieselfde plek waar hulle die brandoffer-dier slag.

34. Die priester moet van die ooi se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar.

35. Hy moet al die vet uithaal, soos hy die vet van die skaap vir die ete-offer uithaal, en hy moet dit op die altaar verbrand, saam met die vuur-offers vir die Here. Die priester doen so versoening vir die sonde wat die persoon gedoen het, en die Here sal hom vergewe.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 4