Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14:1-17 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Dit is wat julle moet doen wanneer iemand melaats was en julle moet hom reinig: Julle moet hom na die priester toe bring.

3. Die priester moet buite die kamp na die persoon gaan kyk. As die seerplek gesond is en nie meer melaats is nie,

4. dan moet die priester sê die persoon moet twee rein voëls bring wat lewe, en ook ’n stukkie sederhout, rooi garing en ’n hisop-takkie.

5. Die priester moet vir die persoon sê hy moet een voël se kop afsny oor ’n kleipot waarin vars water is.

6. Dan moet die priester die voël neem wat nog lewe, en ook die stukkie sederhout, die rooi garing en die hisop-takkie, en hy moet dit druk in die bloed van die dooie voël.

7. Hy moet van die bloed en water sewe maal spat op die persoon wat hy moet reinig. Daarna moet die priester sê die persoon is rein, en die priester moet na die veld gaan, en hy moet die voël wat nog lewe, daar los.

8. Die persoon wat rein geword het, moet sy klere was en hy moet al sy hare afsny en homself was. Hy is dan rein en hy mag in die kamp kom, maar hy moet sewe dae lank buite sy tent bly.

9. Op die sewende dag moet hy weer skeer. Hy moet al sy hare afskeer, sy hare, sy baard en sy ooghare, en hy moet sy klere en homself was. Dan is hy rein en dan mag hy in sy tent ingaan.

10. Op die agste dag moet hy twee ram-lammers en ’n jaaroud ooi-lam na die priester toe bring. Die lammers moet almal gesond wees. Hy moet ook ’n koring-offer bring, die offer is drie tiendes van ’n efa van die beste meel, en hy moet een log olyf-olie bring.

11. Die priester wat die persoon moet reinig, moet dan die persoon en sy offers bring voor die Here by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

12. Die priester moet dan een ram-lam neem en hy moet dit offer saam met die log olyf-olie. Dit is ’n skuld-offer, die priester moet dit heen en weer beweeg voor die Here, dit is ’n beweeg-offer.

13. Die priester moet dan die ram-lam slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die sonde-offer en die brand-offer slag. Hy moet dit op die gewyde plek slag, want die priester kry ook die sonde-offer en hy kry ook die skuld-offer. Dit is ’n hoog-gewyde offer.

14. Die priester moet dan van die bloed van die skuld-offer neem en hy moet dit smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet dit ook smeer aan sy regter-duim en sy regter-groottoon.

15. Die priester moet dan van die olyf-olie neem in sy linker-hand

16. en hy moet sy regter-vinger steek in die olie wat in sy linker-hand is. Hy moet die olie sewe maal voor die Here spat.

17. Die priester moet dan van die olie wat in sy linker-hand is, smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet ook van die olie aan sy regter-duim en sy regter-groottoon smeer, bo-oor die bloed van die skuld-offer.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 14