Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Al die konings wes van die Jordaan-rivier het gehoor wat gebeur het. Die konings het gewoon in die berge en in die Laeveld en langs die Groot See tot teen die Libanon-berg. Hulle was die konings van die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete.

2. Die konings het bymekaargekom om saam oorlog te maak teen Josua en die Israeliete.

3. Die mense wat in die stad Gibeon gewoon het, het gehoor wat Josua gedoen het met die stede Jerigo en Ai.

4. Hulle maak toe self ’n slim plan. Hulle het besluit om te maak of hulle boodskappers is. Hulle het ou saalkleedjies geneem vir hulle donkies, en ou wynsakke wat geskeur het en wat hulle toegebind het.

5. Hulle het ou sandale aangetrek wat hulle reggemaak het, en hulle het ou klere gedra. Hulle padkos was droë krummels.

6. Hulle het na Josua toe gegaan in die kamp by Gilgal en hulle het vir hom en die leiers van die Israeliete gesê: “Ons kom van ’n ver land, en nou moet julle ’n ooreenkoms maak met ons.”

7. Die leiers van die Israeliete het vir die Hewiete gesê: “Julle woon miskien hier naby ons, en dan kan ons nie ’n ooreenkoms maak met julle nie.”

8. Hulle sê toe vir Josua: “Ons sal vir julle werk.”Josua vra toe: “Wie is julle en van waar kom julle?”

9. Hulle het vir hom gesê: “Ons kom van ’n baie ver land. Maar ons het die Naam van jou God die Here gehoor, en ons het gehoor van alles wat Hy in Egipte gedoen het.

10. Ons het ook gehoor van alles wat Hy gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan-rivier: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan. Og het in Astarot gewoon.

11. Ons leiers en al die mense in ons land het vir ons gesê: ‘Julle moet padkos saamneem en julle moet na die Israeliete toe gaan en vir hulle sê: “Ons wil vir julle werk, daarom moet julle ’n ooreenkoms maak met ons.” ’

12. Kyk ons brood, dit was warm toe ons dit uit ons huise saamgeneem het en na julle toe gekom het, en kyk, nou is dit droë krummels.

13. Hierdie wynsakke was nuut toe ons hulle volgemaak het, en kyk, hulle het gebars. En hier is ons klere en ons sandale, hulle het oud geword op die lang pad waar ons geloop het.”

Lees volledige hoofstuk Josua 9