Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:27-34 Bybel vir Almal (ABA)

27. Die Israeliete het net die diere en die goed van die stad vir hulleself gevat. Die Here het vir Josua gesê hulle mag dit doen.

28. Josua het die stad Ai laat verbrand. Dit is tot vandag net ’n hoop klippe, en daar woon niemand nie.

29. Hy het die koning van Ai opgehang aan ’n boom. Toe die son daardie aand ondergaan, het Josua gesê hulle moet die lyk afhaal van die boom. Hulle het dit gedoen en hulle het die lyk in die poort van die stad gegooi. Hulle het dit met ’n groot hoop klippe toegegooi. Die klippe is nou nog daar.

30. Josua het vir die Here, die God van Israel, ’n altaar gebou op Ebal-berg.

31. Dit was ’n altaar van heel klippe, dit was nie klippe wat mense gekap het nie. Moses het vir die Israeliete gesê dat hulle dit so moet bou, en dit is geskryf in die Wetboek van Moses. Die Israeliete het vir die Here brand-offers op die altaar ge-offer en hulle het ete-offers ge-offer.

32. Josua het die Wette van Moses oorgeskryf op die klippe. Die Israeliete het gesien dat hy dit skryf.

33. Al die Israeliete was daar, saam met hulle leiers, hulle voormanne en hulle regters. Hulle het langs die twee kante van die kis gestaan, voor die Levi-priesters wat die kis van die Here moes dra. Daar was vreemdelinge saam met die Israeliete. Die een helfte van die mense het voor Gerisim-berg gestaan en die ander helfte van die mense het voor Ebal-berg gestaan. Moses, die dienaar van die Here, het voorheen gesê hulle moet dit doen sodat hulle die volk Israel kan seën.

34. Josua het toe alles gelees wat in die wette geskryf is oor wanneer die Here mense seën of vervloek. Hy het alles gelees wat daaroor geskryf is in die Wetboek.

Lees volledige hoofstuk Josua 8