Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:2-13 Bybel vir Almal (ABA)

2. Jy moet met Ai en sy koning dieselfde doen wat jy met Jerigo en sy koning gedoen het, maar julle mag die goed in die stad en die diere vir julleself hou. Jy moet manne laat wegkruip sodat hulle die stad van agter kan aanval.”

3. Josua en al die manne wat kon oorlog maak, het dadelik na Ai gegaan. Josua het 30 000 manne gekies wat goed oorlog kon maak en hy het hulle in die nag gestuur

4. en vir hulle gesê: “Julle moet agter die stad gaan wegkruip, maar julle moenie ver van die stad wees nie en julle moet almal gereed wees.

5. Ek en die manne by my sal nader kom na die stad, en wanneer hulle soos voorheen weer kom om ons aan te val, dan sal ons wegvlug van hulle.

6. Hulle sal aanhou om na ons toe te kom totdat hulle ver van die stad is, want hulle sal dink ons vlug weg van hulle, soos voorheen.

7. Dan moet julle opstaan waar julle weggekruip het en julle moet die stad vat. Julle God die Here sal julle help om te oorwin.

8. Wanneer julle die stad gevat het, dan moet julle dit aan die brand steek. Die Here het gesê ons moet dit doen, en nou sê ek julle moet dit doen.”

9. Josua het die manne gestuur, en hulle het gaan wegkruip wes van Ai, tussen die stad Bet-El en Ai. Josua het daardie nag tussen die ander manne geslaap.

10. Hy het vroeg opgestaan en hy het die manne laat gereedmaak. Hy en die leiers van die Israeliete het voor die manne na Ai geloop.

11. Al die manne wat saam met Josua was, het nader gegaan en hulle het voor die stad gekom. Hulle het hulle tente opgeslaan noord van die stad. Daar was ’n vallei tussen hulle en die stad Ai.

12. Josua het omtrent 5 000 manne laat wegkruip tussen Bet-El en Ai, wes van Ai.

13. Josua en die leiers het gesê die manne moet op hulle plekke wees. Die groot kamp was noord van die stad en die ander manne was wes van die stad. Josua het daardie nag deur die vallei geloop.

Lees volledige hoofstuk Josua 8