Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:14-24 Bybel vir Almal (ABA)

14. Julle moet môre-oggend nader kom, elke stam apart. Die Here sal ’n stam kies, en dan moet elke familie van daardie stam nader kom. Die Here sal ’n familie kies, en dan moet elke huisgesin van daardie familie nader kom. Die Here sal ’n huisgesin kies, en dan moet elke man in daardie huisgesin nader kom.

15. Die Here sal wys wie is die man wat die gewyde goed gevat het, en dan moet julle hom verbrand, hom en al sy mense. Want hierdie man het verkeerd gedoen teen die verbond van die Here, hy het ’n dwase ding gedoen tussen die Israeliete.’ ”

16. Josua het vroeg die oggend opgestaan en hy het die stamme van die Israeliete laat nader kom. Die Here het die Juda-stam gekies.

17. Toe het hy die families van die Juda-stam laat nader kom, en die Here het die Serag-familie gekies. Uit die Serag-familie het die Here die huisgesin van Sabdi gekies.

18. Toe het Josua die huisgesin van Sabdi laat nader kom, en die Here het vir Akan seun van Karmi seun van Sabdi gekies.

19. Toe sê Josua vir Akan: “My seun, jy moet die Here, die God van Israel, respekteer. Jy moet Hom prys en sê dat Hy doen wat reg is. Sê asseblief vir my wat jy gedoen het, moenie dit vir my wegsteek nie.”

20. Akan het geantwoord: “Ja, ek het sonde gedoen teen die Here, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het:

21. Ek het tussen die goed wat ons gevat het, ’n mooi bo-kleed gesien uit die land Sinar, en ook 200 sikkels silwer en ’n staaf goud wat 50 sikkels weeg. Ek wou dit graag hê en ek het dit gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is onder al die ander goed.”

22. Josua het mense gestuur en hulle het na die tent gehardloop. Daar kry hulle toe die goed wat in die tent begrawe is, die silwer was onder al die ander goed.

23. Hulle het die goed uit die tent geneem en hulle het dit na Josua en al die Israeliete toe gebring. Hulle het dit daar voor die kis van die Here neergesit.

24. Josua en al die Israeliete het vir Akan seun van Serag geneem en hulle het hom na die Akor-vallei gebring. Hulle het ook alles wat aan Akan behoort het, na die Akor-vallei gebring: die silwer en die bo-kleed en die goud, en Akan se kinders, sy beeste, sy donkies, sy skape en bokke.

Lees volledige hoofstuk Josua 7