Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:11-21 Bybel vir Almal (ABA)

11. Die priesters het die kis van die Here een maal om die stad gedra, en toe hulle by die kamp kom, het hulle die nag daar gebly.

12. Josua het die volgende oggend vroeg opgestaan, en die priesters het die kis van die Here opgetel en gedra.

13. Die sewe priesters het elkeen ’n ramshoring gedra en hulle het voor die kis van die Here geloop. Hulle het aangehou om die ramshorings te blaas. Die manne wat wapens gehad het, het voor hulle geloop, en die ander mense het agter die kis van die Here geloop. Die priesters het aangehou om die ramshorings te blaas.

14. Hulle het op die tweede dag een maal om die stad geloop en toe het hulle teruggegaan na die kamp. Hulle het dit ses dae lank elke dag gedoen.

15. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit begin lig word, en hulle het dieselfde gedoen, maar hulle het toe sewe maal om die stad geloop. Hulle het net op hierdie sewende dag sewe maal om die stad geloop.

16. En toe die priesters die sewende maal die ramshorings blaas, het Josua vir die manne gesê: “Julle moet skree om die oorlog te begin, want die Here sal julle laat wen teen die mense van hierdie stad.

17. Maar julle moet die stad en alles wat daarin is, aan die Here wy en julle moet dit verwoes. Net die prostituut Ragab en almal by haar in haar huis mag aanhou lewe, want sy het ons boodskappers weggesteek.

18. En onthou, julle moet versigtig wees met alles wat aan die Here gewy is, julle moenie iets vat wat aan die Here gewy is nie. As julle dit doen, dan sal die kamp van Israel ook aan die Here gewy wees, en dan bring julle die dood in die kamp.

19. Die silwer en die goud en die goed van brons en yster is aan die Here gewy, julle moet dit sit in die stoorkamer van die Here.”

20. Die manne het geskree om die oorlog te begin, en hulle het die ramshorings geblaas. Toe die manne hoor die ramshorings blaas, het hulle hard geskree om die oorlog te begin. Die muur van die stad het omgeval, en die manne het opgeklim in die stad, elkeen het reguit vorentoe in die stad ingegaan en hulle het die stad oorwin.

21. Hulle het almal en alles in die stad doodgemaak, mans en vroue, jongmense en oumense, beeste, skape en donkies.

Lees volledige hoofstuk Josua 6