Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:4-13 Bybel vir Almal (ABA)

4. En Ek het vir Isak seuns gegee, hulle name was Jakob en Esau. Ek het die Seïr-berge vir Esau gegee sodat hy dit vir homself kon vat, en Jakob en sy seuns het na Egipte gegaan.

5. Ek het vir Moses en Aäron na Egipte gestuur, en Ek het dinge daar gedoen wat die Egiptenaars laat swaarkry het. En toe het Ek julle uitgebring.

6. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte gebring het, het julle by die see gekom, en die Egiptenaars het julle voorvaders gevolg en gejaag tot by die Riet-see. Die Egiptenaars het oorlogkarre en manne op perde gehad.

7. Julle voorvaders het tot die Here geroep en gevra dat Hy hulle moet help. Toe het die Here dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars, en Hy het die see oor hulle laat vloei sodat die water hulle toegemaak het. Julle het self gesien wat Ek met die Egiptenaars gedoen het. Ná daardie tyd het julle baie lank in die woestyn gebly.

8. Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete. Die Amoriete het oos van die Jordaan-rivier gewoon. Hulle het oorlog gemaak teen julle, en Ek het julle laat wen teen hulle. Julle het hulle land gevat, en Ek het hulle laat sterf om plek te maak vir julle.

9. Toe het Balak seun van Sippor, koning van Moab, besluit om oorlog te maak teen die Israeliete. Hy het vir Bileam seun van Beor laat haal om julle te vervloek.

10. Maar Ek wou nie doen wat Bileam gevra het nie, Ek het gesê hy moet julle seën. Ek het julle gered van Balak.

11. Julle het oor die Jordaan-rivier gegaan en by die stad Jerigo gekom. Die mense van Jerigo het oorlog gemaak teen julle. Dit was die Amoriete en Feresiete en Kanaäniete en Hetiete en Girgasiete en Hewiete en Jebusiete. Maar Ek het julle laat wen teen hulle.

12. Dit was nie júlle wapens wat hulle oorwin het nie. Ék het hulle bang laat word, en hulle het gevlug soos die twee konings van die Amoriete.

13. Ek het vir julle ’n land gegee waar julle nie gewerk het nie en stede wat julle nie self gebou het nie. Julle het daar gaan woon en julle het druiwe en olywe geëet van wingerdstokke en olyfbome wat julle nie geplant het nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 24