Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Josua het al die stamme van Israel laat bymekaarkom by die stad Sigem. Hy het die leiers, die hoofde, die regters en die voormanne geroep, en hulle het voor God kom staan.

2. Josua het toe vir die hele volk gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Julle voorvaders het lank gelede anderkant die Eufraat-rivier gewoon. Dit was Tera en sy seuns Abraham en Nahor. En hulle het ander gode gedien.

3. Ek het toe julle voorvader Abraham weggeneem van anderkant die Eufraat-rivier en Ek het hom deur die hele land Kanaän laat gaan. Ek het sy nageslag baie laat word. Ek het vir hom ’n seun gegee, sy naam was Isak,

4. En Ek het vir Isak seuns gegee, hulle name was Jakob en Esau. Ek het die Seïr-berge vir Esau gegee sodat hy dit vir homself kon vat, en Jakob en sy seuns het na Egipte gegaan.

5. Ek het vir Moses en Aäron na Egipte gestuur, en Ek het dinge daar gedoen wat die Egiptenaars laat swaarkry het. En toe het Ek julle uitgebring.

6. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte gebring het, het julle by die see gekom, en die Egiptenaars het julle voorvaders gevolg en gejaag tot by die Riet-see. Die Egiptenaars het oorlogkarre en manne op perde gehad.

7. Julle voorvaders het tot die Here geroep en gevra dat Hy hulle moet help. Toe het die Here dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars, en Hy het die see oor hulle laat vloei sodat die water hulle toegemaak het. Julle het self gesien wat Ek met die Egiptenaars gedoen het. Ná daardie tyd het julle baie lank in die woestyn gebly.

8. Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete. Die Amoriete het oos van die Jordaan-rivier gewoon. Hulle het oorlog gemaak teen julle, en Ek het julle laat wen teen hulle. Julle het hulle land gevat, en Ek het hulle laat sterf om plek te maak vir julle.

9. Toe het Balak seun van Sippor, koning van Moab, besluit om oorlog te maak teen die Israeliete. Hy het vir Bileam seun van Beor laat haal om julle te vervloek.

10. Maar Ek wou nie doen wat Bileam gevra het nie, Ek het gesê hy moet julle seën. Ek het julle gered van Balak.

11. Julle het oor die Jordaan-rivier gegaan en by die stad Jerigo gekom. Die mense van Jerigo het oorlog gemaak teen julle. Dit was die Amoriete en Feresiete en Kanaäniete en Hetiete en Girgasiete en Hewiete en Jebusiete. Maar Ek het julle laat wen teen hulle.

12. Dit was nie júlle wapens wat hulle oorwin het nie. Ék het hulle bang laat word, en hulle het gevlug soos die twee konings van die Amoriete.

13. Ek het vir julle ’n land gegee waar julle nie gewerk het nie en stede wat julle nie self gebou het nie. Julle het daar gaan woon en julle het druiwe en olywe geëet van wingerdstokke en olyfbome wat julle nie geplant het nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 24