Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:5-21 Bybel vir Almal (ABA)

5. Maar julle moet waarlik reg lewe en reg doen, julle moet waarlik regverdig wees wanneer julle oordeel,

6. julle moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees laat swaarkry nie, julle moenie onskuldige mense laat doodmaak nie, en julle moenie ander gode dien nie, want dan sal dit sleg gaan met julle.

7. As julle reg lewe en reg doen, dan sal Ek by julle woon in hierdie plek wat Ek vir altyd vir julle voorvaders gegee het.

8. Julle dink dit sal goed gaan wanneer mense vir julle dinge sê wat nie waar is nie en wat julle niks sal help nie.

9. Julle steel en vermoor mense en pleeg egbreuk, julle belowe dinge wat julle nie wil doen nie, en julle vertel leuens, julle bring wierook-offers vir Baäl en julle dien ander gode wat julle nie geken het nie.

10. Julle kan nie al hierdie baie verkeerde dinge doen en dan voor My kom staan in hierdie tempel wat my Naam het, en sê: ‘U sal ons red’ nie.

11. Dink julle hierdie tempel wat my Naam het, is ’n plek waar diewe veilig is? Julle moet weet, Ek sien wat hier gebeur.

12. Want gaan na die stad Silo, na die plek wat my Naam gehad het en waar Ek voorheen gewoon het. Gaan kyk wat Ek met daardie plek gedoen het omdat my volk Israel sonde gedoen het.

13. En nou, julle het al hierdie dinge gedoen. Ek het aangehou om met julle te praat, maar julle het nie geluister nie, Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie.

14. Daarom sal Ek met die plek wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het, hierdie tempel wat my Naam het, doen soos Ek met Silo gedoen het. Julle dink hierdie tempel sal dit goed laat gaan met julle.

15. Maar Ek sal julle weggooi soos Ek julle familie, die hele nageslag van Efraim, weggegooi het.

16. “En jy, Jeremia, jy moenie vir hierdie volk bid nie, jy moenie vir My soebat dat Ek weer goed moet wees vir hulle nie, want Ek sal nie na jou luister nie.

17. Jy sien self wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem.

18. Die seuns kap hout en die pa’s maak vuur en die vroue knie deeg en bak koeke vir die koningin van die hemel. Hulle bring drank-offers vir ander gode om My ongelukkig te maak.

19. Maar dit is nie vir My wat hulle ongelukkig maak nie, hulle maak hulleself ongelukkig, dit is húlle wat sal swaarkry.”Dit sê die Here.

20. Daarom sê die Here: “Ek is kwaad en Ek sal almal en alles in hierdie plek straf: mense en diere, bome en plante. Dit sal wees soos ’n vuur wat aanhou brand.”

21. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Dit sal beter wees as julle die vleis van julle brand-offers self eet saam met die vleis van julle ander offers.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7