Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 11 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal dogter van Jeremia, van die stad Libna.

2. Sedekia het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen soos Jojakim gedoen het.

3. Daarom het die Here kwaad geword vir Jerusalem en vir Juda en Hy het hulle weggestoot van Hom.Sedekia het opstandig geword teen die koning van Babel,

4. en koning Nebukadnesar van Babel het oorlog kom maak teen Jerusalem, hy en sy soldate. Dit was in die negende jaar nadat Sedekia koning geword het, op die tiende dag van die tiende maand. Die soldate van Babel het tente opgeslaan en ’n grondwal gebou rondom die stad.

5. Hulle het rondom die stad gebly tot in die elfde jaar nadat Sedekia koning geword het.

6. In die vierde maand van daardie jaar, op die negende dag van die maand, was die mense in die stad baie honger. Daar was nie meer kos vir die mense van die land nie.

7. Die soldate van Babel het die muur van die stad gebreek en in die stad gekom. Al die soldate van Jerusalem het gevlug. Hulle het in die nag uit die stad gegaan deur die poort tussen die twee mure by die koning se tuin, en toe het hulle verder gegaan na die Jordaan-vallei. Die Galdeërs was rondom die stad,

8. en die soldate van die Galdeërs het vir koning Sedekia gevolg en gejaag. Hulle het hom gekry op die gelyk grond by Jerigo. Al sy soldate het weggehardloop van hom.

9. Die Galdeërs het vir koning Sedekia gevang en hulle het hom geneem na die koning van Babel in die stad Ribla, in die land Hamat. Daar het die koning van Babel besluit hoe hy vir Sedekia wil straf.

10. Hy het Sedekia se seuns en ook die amptenare van Juda laat doodmaak in Ribla. Sedekia moes kyk terwyl hulle dit gedoen het.

11. Toe het die koning Sedekia se oë laat uitsteek en hy het Sedekia met kettings laat vasbind. Daarna het die koning van Babel vir Sedekia na Babel laat bring en hy het Sedekia daar in die tronk gehou totdat hy gesterf het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 52