Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 37:11-21 Bybel vir Almal (ABA)

11. Toe die soldate van die Galdeërs weggegaan het van Jerusalem, het hulle gehoor dat die soldate van die farao kom.

12. Jeremia het toe weggegaan uit Jerusalem. Hy wou na die land Benjamin gaan om sy deel te kry van die grond van sy familie.

13. Maar toe hy in die Benjamin-poort kom, het ’n offisier van die wagte vir Jeremia gegryp. Die offisier was Jirija seun van Selemja seun van Gananja. Jirija het gesê: “Jy wil nou na die Galdeërs toe gaan om saam met hulle te veg.”

14. Maar Jeremia het gesê: “Dit is nie waar nie. Ek gaan nie na die Galdeërs toe nie.”Maar Jirija het nie vir Jeremia geglo nie. Hy het Jeremia gegryp en hy het hom na die amptenare gebring.

15. Die amptenare was kwaad vir Jeremia. Hulle het hom geslaan en toegesluit in die huis van die sekretaris Jonatan. Hulle het die huis verander en hulle het dit ’n tronk gemaak.

16. Hulle het Jeremia toe in ’n put gesit. In die put was daar ook ander kamers, en Jeremia het lank daar gebly.

17. Koning Sedekia het eendag vir Jeremia laat haal om na die paleis te kom. Toe hulle twee alleen was, het hy vir Jeremia gevra: “Is daar ’n boodskap van die Here?”Jeremia het gesê: “Ja, daar is ’n boodskap. Die koning van Babel sal jou oorwin en hy sal jou vang.”

18. Jeremia het ook vir koning Sedekia gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen teen jou en jou amptenare en al hierdie mense? Hoekom het julle my in die tronk gesit?

19. En waar is julle profete nou wat vir julle die boodskap gebring het dat die koning van Babel nie teen julle en teen hierdie land sal kom oorlog maak nie?

20. Meneer die koning, luister nou asseblief na wat ek vra: Moenie dat ek teruggaan na die huis van die sekretaris Jonatan nie, ek sal daar sterf.”

21. Die koning het toe gesê dat hulle vir Jeremia moet oppas in die binneplaas van die wagte. Hy het ook gesê dat Jeremia elke dag ’n brood moet kry van die bakkerstraat. Jeremia het brood gekry totdat al die kos in die stad op was. Jeremia het in die binneplaas van die paleiswagte gebly.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 37