Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Nebukadnesar en al sy soldate en al die volke oor wie hy regeer het, het oorlog gemaak teen Jerusalem en al die stede naby die stad. Jeremia het gehoor die Here sê vir hom:

2. “Die Here, die God van Israel, sê: Jy moet vir koning Sedekia van Juda gaan sê dat Ek sê: Ek gee hierdie stad vir die koning van Babel, en hy sal dit verbrand.

3. En jy sal nie kan wegvlug van hom nie. Sy soldate sal jou vang, dit is seker, en hulle sal jou vir hom gee. Jy en die koning van Babel sal mekaar sien en met mekaar praat, en jy sal na Babel gaan.”

4. Maar hoor wat sê die Here nog vir jou, koning Sedekia van Juda: “Jy sal nie in die oorlog sterf nie,

5. jy sal sterf wanneer daar vrede in jou land is. Jou mense sal vir jou ook vure aansteek om oor jou te rou, soos hulle ook gedoen het vir die konings van Juda wat voorheen regeer het. Dit belowe Ek, sê die Here.”

6. Die profeet Jeremia het dit alles vir koning Sedekia van Juda in Jerusalem gesê.

7. Dit was toe die soldate van die koning van Babel oorlog gemaak het teen Jerusalem en teen al die stede van Juda wat oorgebly het, ook teen die stede Lakis en Aseka, die enigste stede met sterk mure wat nog oorgebly het.

8. Jeremia het gehoor die Here praat met hom. Dit was in die tyd nadat Sedekia ’n ooreenkoms gemaak het met die mense in Jerusalem. Hulle het belowe dat hulle die slawe van hulle eie volk vry sal laat weggaan.

9. Elkeen moes sy Hebreeuse slaaf of slavin vry laat weggaan, sodat nie een Judeër ’n slaaf van sy eie volk het nie.

10. Al die amptenare en al die mense wat die ooreenkoms met die koning gemaak het om hulle slawe vry te laat weggaan, het dit gedoen.

11. Maar toe het hulle weer verander en hulle het die slawe en slavinne wat hulle vry laat weggaan het, weer laat terugkom. Hulle het hulle weer slawe en slavinne gemaak.

12. Jeremia het gehoor die Here sê vir hom:

13. “Die Here, die God van Israel sê: Ek het ’n verbond gemaak met julle voorvaders toe Ek hulle vrygemaak het uit Egipte waar hulle slawe was. Ek het gesê:

14. Julle almal moet elke sewende jaar elke Hebreër van julle eie volk wat ’n slaaf van julle geword het en wat ses jaar lank vir julle gewerk het, vry laat weggaan.“Maar julle voorvaders het dit nie gedoen nie, hulle was nie gehoorsaam nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34