Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:3-20 Bybel vir Almal (ABA)

3. Jeremia het gesê: “Ek het 23 jaar lank gehoor wat die Here vir my gesê het. Dit het begin in die dertiende jaar nadat Josia seun van Amon koning van Juda geword het. Ek het aangehou om met julle te praat, maar julle het nie geluister nie.

4. En die Here het al sy dienaars, die profete, na julle toe gestuur. Hy het aangehou om dit te doen, maar julle het nie geluister nie, julle was ongehoorsaam.

5. Die Here het gesê: ‘Julle moet asseblief terugkom na My toe. Julle moet ophou om sleg te lewe en verkeerde dinge te doen. Dan sal julle altyd woon in die land wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het.

6. Julle moenie ander gode dien en aanbid nie. Julle moenie vir My kwaad maak met beelde wat julle self gemaak het nie. As julle gehoorsaam is, dan sal Ek julle nie laat swaarkry nie.

7. Maar julle het nie geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle self gemaak het, en daarom kry julle swaar.’

8. “Die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Omdat julle dit gedoen het, omdat julle nie gehoorsaam was aan My nie,

9. daarom stuur Ek nou ’n boodskap na al die volke in die noorde, en na my dienaar Nebukadnesar, koning van Babel. Ek sal daardie mense bring teen hierdie land en teen almal wat hier woon en ook teen die volke rondom hierdie land. Hulle sal julle aanval en so sal Ek hierdie mense doodmaak. Ek sal julle land verwoes, mense sal skrik as hulle die land sien en hulle sal loop en fluit. Die stede sal hope klippe word wat altyd hier sal lê.

10. Niemand sal hier feesvier nie en niemand sal trou nie, niemand sal in die oggend koring maal en niemand sal in die aand ’n lamp opsteek nie.

11. Die hele land sal vol hope klippe lê en niemand sal hier woon nie. Die mense wat hier was, sal vir die koning van Babel moet werk, 70 jaar lank.

12. Maar wanneer die 70 jaar verby is, dan sal Ek die koning van Babel en sy mense in Galdeër-land straf oor wat hulle gedoen het. Dan sal daar nie meer mense in daardie land woon nie.

13. Ek sal met daardie land alles doen wat Ek gesê het, alles wat Jeremia oor al daardie volke gesê het en wat in hierdie boek geskryf is.

14. Ook die Galdeërs sal vir baie volke en vir groot konings moet werk. Ek sal hulle straf oor wat hulle gedoen het.’ ”

15. Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Ek gee vir jou hierdie beker met die giftige wyn. Ek stuur jou na verskillende volke toe, en jy moet hulle almal laat drink van die wyn.

16. Hulle sal drink en hulle bene sal bewe. Hulle sal soos mal mense word, omdat Ek mense stuur om oorlog te maak teen hulle.”

17. Ek het die beker geneem wat die Here vir my gegee het. Ek het na al daardie volke toe gegaan en ek het die mense laat drink.

18. Ek het eerste na Jerusalem en die stede van Juda gegaan, en ek het hulle konings en amptenare laat drink. Die stede het hope klippe geword, en daar het toe niemand gewoon nie. Mense het daar geloop en fluit. Die Here het die land vervloek, daarom lyk die land vandag so sleg.

19. Toe het die farao, die koning van Egipte, gedrink, en sy amptenare en sy hele volk en al die mense wat naby Egipte woon en wat vir die farao moet werk.

20. En daarna het ek al hierdie mense laat drink: die konings van die land Us, en al die konings van Filistyne-land en die mense van die stede Askelon, Gasa en Ekron, en die mense in Asdod wat nog lewe,

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25