Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:29-40 Bybel vir Almal (ABA)

29. Die Here sê: “Die dinge wat Ek sê, is soos vuur. Dit is soos ’n hamer wat rotse stukkend slaan.

30. Daarom is Ek teen die profete wat sê wat ander profete sê, en wat dan sê dat Ek dit gesê het.

31. Ek is teen die profete wat self dinge uitdink, en dan sê hulle dit is Ek wat dit sê.

32. Ek is teen die mense wat sê Ek het hulle gestuur, en dan vertel hulle drome wat nie waar is nie. Hulle vertel drome en hulle bedrieg my volk. Hulle lieg, en dit maak nie vir hulle saak wat gebeur nie. Ek het hulle nie gestuur nie, Ek het nie gesê wat hulle moet sê nie. Hulle help nie hierdie volk wanneer hulle dit sê nie. Dit is seker.”

33. Die Here sê: “Wanneer hierdie volk of ’n profeet of ’n priester vir jou vra: ‘Wat het die Here gesê?’ dan moet jy vir hulle sê: ‘Hoekom vra julle wat die Here gesê het? Die Here wil nie meer met julle praat nie.’

34. Ek sal die profeet en die priester en die volk straf wat sê hy weet wat Ek gesê het. Ek sal die persoon straf wat dit sê, Ek sal ook sy familie straf.

35. Julle mag vir mekaar vra: ‘Wat het die Here geantwoord? Wat het Hy gesê?’

36. Maar julle moet nooit weer sê julle weet wat Ek gesê het nie, want net iemand wat sê wat Ek sê, mag so praat.”Maar julle verander die woorde van die God wat lewe, ons God die Here wat oor alles regeer.

37. “Julle mag vir ’n profeet vra: ‘Wat het die Here geantwoord? Wat het die Here vir jou gesê?’

38. Maar as julle aanhou om te sê julle weet wat Ek gesê het, dan sê Ek vir julle: Julle het gesê julle weet wat Ek gesê het. Maar Ek het vir julle ’n boodskap gestuur en vir julle gesê julle moenie sê julle weet wat Ek gesê het nie.

39. Daarom sal Ek julle heeltemal vergeet. Ek wil nie meer met julle praat nie, Ek sal die stad los wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het.

40. Ek sal julle vir altyd verneder, julle sal dit nooit vergeet nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23