Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:4-17 Bybel vir Almal (ABA)

4. As Pa vir Benjamin saam met ons laat gaan, dan sal ons na Egipte gaan en vir Pa kos gaan koop.

5. Maar as Pa hom nie laat saamgaan nie, dan sal ons nie gaan nie, want die man het vir ons gesê ons mag nie terugkom as ons broer nie by ons is nie.”

6. Toe vra Jakob: “Hoekom het julle vir my hierdie probleme gemaak? Hoekom het julle vir die man vertel dat julle nog ’n broer het?”

7. Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra oor onsself en oor ons familie. Hy het gevra of ons pa nog lewe en of ons nog ’n broer het. Ons het hom net vertel wat hy gevra het. Ons het nie geweet hy sou sê ons moet ons broer saambring nie.”

8. Juda het vir sy pa Jakob gesê: “Laat die seun saam met my gaan en laat ons gereedmaak en gaan, sodat ons en Pa en ons familie kan lewe en nie sterf van die honger nie.

9. Ek sal seker maak dat hy veilig is. Ek belowe dat ek vir Benjamin sal oppas. As ek hom nie terugbring sodat hy hier voor Pa kom staan nie, dan sal ek altyd skuldig wees by Pa.

10. As ons nie so lank gewag het nie, dan kon ons nou al twee maal daarnatoe gegaan het en teruggekom het.”

11. Hulle pa Jakob sê toe vir hulle: “As dit dan so moet wees, dan moet julle dit doen. Neem presente, die beste van ons land, in julle sakke saam en gee dit vir die man. Gee vir hom ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, ’n bietjie gom, ’n bietjie hars, ’n bietjie neute en amandels.

12. Neem twee maal soveel geld saam, neem ook die geld terug wat bo in julle sakke was. Miskien was dit ’n fout.

13. Neem julle broer en gaan terug na daardie man toe.

14. Ek bid dat God die Almagtige sal help dat die man vriendelik met julle sal wees. Ek bid dat hy julle broer Simeon en ook vir Benjamin sal laat terugkom saam met julle. Ek is bang ek verloor al my seuns.”

15. Die broers het toe die presente geneem en ook twee maal meer geld as die eerste maal. Hulle het vir Benjamin saamgeneem. Hulle het na Egipte gegaan en voor Josef gaan staan.

16. Toe Josef vir Benjamin by hulle sien, het hy vir die bestuurder van sy huis gesê: “Bring die manne na my huis. Slag ’n bees en maak kos gaar, want hulle sal vanmiddag saam met my eet.”

17. Die man het gedoen wat Josef gesê het en hy het Josef se broers na Josef se huis geneem.

Lees volledige hoofstuk Genesis 43