Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:19-31 Bybel vir Almal (ABA)

19. Hulle het toe gaan praat met die man wat die bestuurder was van Josef se huis. Hulle het vir hom gesê:

20. “Asseblief, Meneer, ons het voorheen hiernatoe gekom om koring te koop.

21. Toe ons by die plek kom waar ons wou slaap, het ons ons sakke oopgemaak, en toe sien ons elkeen se geld is bo in sy sak. Die geld was dieselfde soos wat ons betaal het. Nou het ons die geld teruggebring.

22. Ons het ook ander geld saamgebring om kos te koop. Ons weet nie wie ons geld teruggesit het in ons sakke nie.”

23. Die bestuurder van die huis sê toe: “Julle moenie bekommerd of bang wees nie. Julle God en julle pa se God het vir julle geld in julle sakke gegee. Ek het die geld gekry wat julle betaal het.”Hy bring toe vir Simeon na hulle toe.

24. Die bestuurder het die broers na Josef se huis geneem. Hy het vir hulle water gegee om hulle voete te was en hy het vir hulle donkies kos gegee.

25. Hy het vir hulle gesê hulle sal daar eet. Toe het die broers hulle presente reggesit om dit vir Josef te gee wanneer hy die middag kom.

26. Toe Josef by die huis kom, het hulle die presente gebring en voor hom gebuig.

27. Josef het vir hulle gevra hoe dit gaan. Hy het ook gevra: “Gaan dit goed met julle pa wat so oud is? Julle het my van hom vertel toe julle die eerste maal hier was. Lewe hy nog?”

28. Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met ons pa. Hy lewe nog.”Hulle het gekniel en voor hom gebuig.

29. Toe Josef opkyk, sien hy sy broer Benjamin. Hy en Benjamin het dieselfde ma gehad. Toe vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?”Josef het vir Benjamin gesê: “Ek bid dat God goed sal wees vir jou.”

30. Toe gaan Josef vinnig uit die kamer, want hy wou huil omdat sy broer gekom het. Hy het in ’n ander kamer gaan huil.

31. Daarna het hy sy gesig gewas en teruggekom. Hy was kalm en hy het gesê: “Sit die kos op die tafel.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 43