Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 3:16-24 Bybel vir Almal (ABA)

16. Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry wanneer jy swanger is. Jy sal baie swaar kry wanneer jou kinders gebore word. Jy sal altyd jou man begeer. Jou man sal jou hoof wees.”

17. Daarna het die Here God vir die mens gesê: “Jy het na jou vrou geluister en jy het geëet van die vrugte van die boom wat jou kan help om te weet wat goed is en wat sleg is. Ek het vir jou gesê jy moenie daarvan eet nie. Daarom vervloek Ek die grond waarin jy moet werk. Jy sal baie swaar kry en jy sal jou hele lewe lank hard werk om genoeg kos te kry.

18. Daar sal dorings en bossies uit die grond groei, en jy sal veldplante eet.

19. Jy sal hard werk en sweet om kos te kry. Jy sal aanhou werk totdat jy sterf en teruggaan na die grond, want jy kom uit die grond. Ja, jy is stof en jy sal weer stof word.”

20. Die mens het sy vrou Eva genoem, want sy het die ma geword van al die mense.

21. Die Here God het velle geneem en Hy het vir die mens en sy vrou klere gemaak en dit vir hulle aangetrek.

22. Toe sê die Here God: “Die mens het nou soos een van Ons geword, want hy weet nou wat goed is en wat sleg is. Hy mag nie nou ook eet van die boom wat lewe gee nie, want dan sal hy altyd lewe.”

23. Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die Eden-tuin. Hy moes werk in die grond waarvan God hom gemaak het.

24. Die Here God het die mens weggejaag en Hy het gerubs by die pad oos van die Eden-tuin laat wagstaan. Hulle het swaarde van vuur gehad en hulle moes keer dat die mense nie by die boom kom wat lewe gee nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 3