Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jakob het verder gegaan en hy het aangekom in die land van die mense van die ooste.

2. Hy sien toe ’n put in die veld, en drie troppe skape en bokke rondom die put. Die skape en bokke het altyd water gedrink uit hierdie put, maar daar was ’n groot klip op die put.

3. Wanneer al die troppe skape en bokke daar bymekaar was, dan het die skaapwagters die klip weggerol van die put en dan het hulle vir die diere water gegee. Daarna het hulle die klip op die put teruggesit.

4. Jakob het vir die skaapwagters gevra: “My vriende, van waar kom julle?”En hulle het geantwoord: “Ons kom van Haran.”

5. Toe vra Jakob vir hulle: “Ken julle vir Laban, die seun van Nahor?”En hulle antwoord: “Ja, ons ken hom.”

6. Hy vra toe vir hulle: “Gaan dit goed met hom?”En hulle sê: “Ja, dit gaan goed met hom. Daar kom sy dogter Ragel nou met die skape en bokke.”

7. Jakob het gesê: “Dit is nog vroeg, dit is nog nie tyd om die skape en bokke bymekaar te maak nie. Julle moet vir hulle water gee, en dan moet hulle weer gaan wei.”

8. Maar die skaapwagters het gesê: “Nee, ons mag dit nie doen nie, ons moet wag totdat al die troppe skape en bokke bymekaar is. Dan rol ons die klip van die put af en ons gee vir die skape en bokke water.”

9. Jakob was nog besig om met hulle te praat toe Ragel daar kom met haar pa se skape en bokke. Sy was die skaapwagter.

10. Jakob het sy oom Laban se dogter Ragel gesien met Laban se skape en bokke. Hy het na die put gegaan en hy het die klip afgerol. Hy het vir sy oom Laban se skape en bokke water gegee.

11. Jakob het vir Ragel gesoen en hy het begin huil.

12. Hy het vir Ragel vertel dat hy familie is van haar pa, en dat hy Rebekka se seun is. Ragel hardloop toe huis toe en vertel dit vir haar pa.

13. Toe Laban hoor van sy suster se seun Jakob, hardloop hy na hom toe en omhels hom en soen hom. Laban het hom na sy huis gebring en Jakob het vir Laban alles vertel.

14. Laban het vir hom gesê: “Ons is familie.”Jakob het ’n maand lank by hom gebly.

15. Toe sê Laban vir Jakob: “Jy is familie van my, maar jy moenie vir my verniet werk nie. Sê vir my wat ek jou moet betaal.”

16. Laban het twee dogters gehad. Die oudste dogter was Lea, en die jongste was Ragel.

Lees volledige hoofstuk Genesis 29