Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 28:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Isak het vir Jakob geroep en hy het hom geseën en gegroet. Hy het vir hom gesê: “Jy mag nie trou met ’n meisie van Kanaän nie.

2. Jy moet na die land Paddan-Aram gaan, na jou oupa Betuel se familie toe, jy moet met een van die dogters van jou oom Laban trou.

3. God die Almagtige sal jou seën. Hy sal jou vrugbaar maak en Hy sal vir jou ’n groot nageslag gee. Jy sal die voorvader van ’n baie groot volk word.

4. God sal jou seën soos Hy vir Abraham geseën het. Hy sal jou en ook jou nageslag seën. Hy sal vir jou die land gee waar jy nou ’n vreemdeling is. Dit is die land wat Hy vir Abraham gegee het. Dit sal jou land wees.”

5. So het Isak vir Jakob weggestuur. Jakob het na Paddan-Aram gegaan, na die Arameër Laban toe. Laban was die seun van Betuel en die broer van Rebekka. Rebekka was Jakob en Esau se ma.

6. Esau het gesien dat Isak vir Jakob geseën het en hom weggestuur het na die land Paddan-Aram. Isak het vir Jakob gesê dat hy moet gaan trou met een van daardie meisies. Isak het hom geseën en gesê hy mag nie trou met een van die meisies van die land Kanaän nie.

7. Esau het gesien dat Jakob na sy pa en ma geluister het en na Paddan-Aram gegaan het.

8. Hy het besef dat sy pa Isak nie van die meisies van Kanaän hou nie.

9. Toe gaan Esau na Ismael toe. Ismael was Abraham se seun. Esau het ander vroue gehad, maar hy trou toe ook met Magalat, Ismael se dogter. Sy was Nebajot se suster.

10. Jakob het van die stad Berseba na die stad Haran gegaan.

11. Toe die son ondergegaan het, het hy by ’n plek gekom waar hy die nag kon slaap. Hy het ’n klip onder sy kop gesit en hy het aan die slaap geraak.

12. Hy het gedroom dat daar ’n leer op die aarde staan, en die boonste punt van die leer is in die hemel. Die engele van God het op en af geklim teen die leer.

13. Toe kom staan die Here by hom en Hy sê vir Jakob: “Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en die God van jou pa Isak. Hierdie land waar jy nou is, sal Ek vir jou en jou nageslag gee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 28