Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daar was weer hongersnood in die land, soos dit was in die tyd toe Abraham gelewe het. Isak het na Abimelek toe gegaan. Abimelek was die koning van die Filistyne in die land Gerar.

2. Die Here het aan Isak verskyn en vir hom gesê: “Moenie verder gaan na Egipte nie. Jy moet woon in die land wat Ek vir jou sal sê.

3. Jy moet in hierdie land woon en ’n vreemdeling wees. Ek sal by jou wees en Ek sal jou seën. Ek sal die hele land vir jou en jou nageslag gee. Ek sal doen wat Ek vir jou pa Abraham belowe het.

4. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre in die lug, en Ek sal vir jou nageslag hierdie hele land gee. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle ook te seën soos Ek jou nageslag sal seën.

5. Ek sal dit doen omdat Abraham na My geluister het en gedoen het wat Ek gesê het. Hy was gehoorsaam aan My.”

6. Isak het toe in die land Gerar gebly.

7. Die mans van daardie plek het vrae gevra oor sy vrou Rebekka, en hy het gesê: “Sy is my suster.”Hy wou nie sê dat Rebekka sy vrou is nie. Hy was bang dat hulle hom sal doodmaak en dat hulle sy vrou sal vat, want sy was baie mooi.

8. Isak het lank daar gewoon. Toe koning Abimelek eendag by die venster uitkyk, sien hy hoe Isak sy vrou Rebekka in sy arms vashou en soen.

9. Toe roep Abimelek vir Isak en hy sê vir hom: “Ek sien Rebekka is jou vrou. Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”Isak het vir hom gesê: “Ek het gedink julle sal my doodmaak as ek sê sy is my vrou.”

10. Abimelek sê toe: “Wat het jy aan ons gedoen? As een van ons mans by jou vrou geslaap het, dan het ons sonde gedoen, en dan was dit jou skuld.”

11. Abimelek het vir al sy mense gesê: “Julle mag nie aan hierdie man of sy vrou raak nie. Die een wat dit doen, sal sterf. Dit is seker!”

12. Isak het koring gesaai in daardie land en hy het daardie jaar 100 maal meer koring gekry as wat hy gesaai het. Die Here het hom geseën,

13. en hy het ’n baie ryk man geword.

Lees volledige hoofstuk Genesis 26