Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 25:3-22 Bybel vir Almal (ABA)

3. Joksan was die pa van Skeba en Dedan. Dedan se nageslag was die mense van Assur, Letus en Leüm.

4. Midian se seuns was Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Hulle was almal die nageslag van Ketura.

5. Isak het alles gekry wat Abraham gehad het.

6. Abraham het vir die kinders van sy byvrou Ketura presente gegee terwyl hy nog gelewe het, en hy het hulle weggestuur na die ooste, weg van Isak.

7. Abraham het 175 jaar oud geword.

8. Hy was baie oud. Hy het gesterf en hy is begrawe.

9. Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpela-grot oorkant Mamre. Dit was op die grond wat voorheen behoort het aan Efron die Hetiet. Efron was die seun van Sogar.

10. Abraham het voorheen hierdie stuk grond gekoop by die Hetiete en hy het sy vrou Sara daar begrawe.

11. Ná Abraham se dood het God Abraham se seun Isak geseën, en Isak het by Lagai-Roï-fontein gaan woon.

12. Hier is ’n lys van die nageslag van Ismael, Abraham en Hagar se seun. Hagar was Sara se slavin. Sy het uit Egipte gekom.

13. Hier is die name van Ismael se nageslag: Ismael se oudste seun was Nebajot. Die ander seuns was Kedar, Adbeël, Mibsam,

14. Misma, Duma, Massa,

15. Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16. Dit is die name van Ismael se twaalf seuns. Hulle was leiers van hulle families en stamme. Hulle het in kampe en klein dorpies gewoon. Die plekke en die seuns het dieselfde name gehad.

17. Ismael het 137 jaar oud geword. Toe het hy gesterf en hulle het hom begrawe.

18. Ismael se nageslag het tussen Gawila en Sur gewoon. Sur was oos van Egipte naby Assur. Ismael het weg van sy familie gaan woon.

19. Hier is die verhaal van Isak, Abraham se seun.

20. Toe Isak 40 jaar oud was, het hy getrou met Rebekka, die dogter van Betuel, ’n Arameër uit Paddan-Aram. Sy was die suster van Laban die Arameër.

21. Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy kon nie kinders kry nie. Die Here het geluister na sy gebed, en sy vrou Rebekka het swanger geword.

22. Die kinders in haar het baie teen mekaar geskop, en sy het gesê: “Hoekom skop die kinders so?”Sy het gaan bid en vir die Here gevra hoekom dit gebeur.

Lees volledige hoofstuk Genesis 25