Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 22:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daarna het God vir Abraham getoets. Hy het vir Abraham gesê:“Abraham!”En Abraham het geantwoord: “Hier is ek!”

2. Toe sê God: “Neem jou seun, jou enigste seun vir wie jy lief is, neem vir Isak en gaan na Moria-land. Jy moet jou seun daar vir My offer. Hy moet die brand-offer wees. Jy moet hom offer op een van die berge wat Ek vir jou sal wys.”

3. Die volgende oggend vroeg het Abraham sy donkie opgesaal. Hy het twee van sy slawe en sy seun Isak saamgeneem. Hy het hout gekap vir die brand-offer, en hy het na die plek gegaan wat God vir hom gesê het.

4. Op die derde dag het Abraham die plek ver weg gesien.

5. Toe sê Abraham vir sy slawe: “Bly hier by die donkie. Ek en my seun gaan daarnatoe. As ons klaar die Here aanbid het, dan sal ons terugkom na julle toe.”

6. Abraham het die hout vir die brand-offer geneem en hy het dit op sy seun Isak gesit. Hy het self die kole vuur en die mes geneem, en hulle twee het saam geloop.

7. Isak sê toe vir sy pa Abraham: “Pa?”En Abraham antwoord: “Hier is ek, my seun.”Isak vra toe: “Hier is die vuur en die hout, maar waar is die skaap vir die brand-offer?”

8. En Abraham sê: “My seun, God sal self die skaap vir die brand-offer gee.”Hulle twee het saam verder geloop.

9. Toe hulle by die plek kom wat God vir Abraham gesê het, het Abraham daar ’n altaar gebou en hy het die hout uitgepak. Hy het sy seun Isak vasgebind en hom op die altaar gesit, bo-op die hout.

10. Abraham steek toe sy hand uit en neem die mes om sy seun dood te maak,

11. maar toe roep die Engel van die Here uit die hemel vir hom en sê: “Abraham! Abraham!”En hy antwoord: “Hier is ek!”

Lees volledige hoofstuk Genesis 22