Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 9:5-19 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die Jode het hulle vyande aangeval en hulle het almal doodgemaak, hulle het gedoen wat hulle wil met die mense wat vir hulle gehaat het.

6. Die Judeërs het 500 mense in die stad Susan doodgemaak.

7-10. Hulle het ook die tien seuns van Haman doodgemaak. Die seuns was Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Haman was die seun van Hammedata, hy was die vyand van die Judeërs. Maar die Judeërs het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.

11. Toe die koning daardie dag hoor hoeveel mense in Susan dood is,

12. het hy vir koningin Ester gesê: “Die Judeërs het hier in die stad Susan 500 persone doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Ek wonder hoeveel mense hulle in die ander provinsies doodgemaak het. Wat wil jy nog vir my vra? Ek sal dit vir jou gee. Jy moet sê wat jy nog wil hê, en ek sal dit doen.”

13. Ester het geantwoord: “As die koning dink dit is reg, dan moet jy vir die Judeërs in Susan sê dat hulle môre dieselfde mag doen wat hulle vandag gedoen het. En jy moet die tien seuns van Haman laat ophang aan die paal.”

14. Die koning het gesê dit is goed, en die mense in Susan het gehoor wat hy besluit het. Hulle het die tien seuns van Haman opgehang.

15. Die Judeërs in Susan het ook op die 14de dag van die maand Adar bymekaargekom en hulle het nog 300 mense in Susan doodgemaak. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.

16. Die Judeërs in die ander provinsies van die koning het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het gewen teen al hulle vyande en hulle het 75 000 mense doodgemaak wat vir hulle gehaat het. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.

17. Dit was op die 13de dag van die maand Adar. Op die 14de dag het hulle gerus, en hulle het besluit dat daardie dag ’n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag.

18. Maar die Judeërs in die stad Susan het op die 13de én op die 14de dag bymekaargekom en hulle het op die 15de dag gerus. Daarom het hulle besluit dat die 15de dag ’n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag.

19. Daarom het die Judeërs wat woon in die stede wat nie mure het nie, die 14de dag ’n feesdag gemaak. Dit is ’n vakansiedag en hulle stuur dan kospakkies vir mekaar.

Lees volledige hoofstuk Ester 9