Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 4:9-17 Bybel vir Almal (ABA)

9. Hatak het vir Ester gaan sê wat Mordegai gesê het,

10. en Ester het vir Hatak gesê hy moet vir Mordegai gaan sê:

11. “Al die koning se mense en almal in die provinsies van die koning weet dat enige iemand, ’n man of ’n vrou, net na die koning toe mag gaan op die oop stuk grond binne-in die paleis wanneer die koning hom laat roep. As iemand na die koning toe gaan maar die koning het hom nie geroep nie, dan is daar een wet vir almal: Daardie persoon moet sterf. Hy sal net aanhou lewe as die koning sy goue septer na hom toe uitsteek. Die koning het my nog nie laat roep nie, en vandag is 30 dae klaar verby.”

12. Hulle het vir Mordegai vertel wat Ester gesê het,

13. en toe het Mordegai gesê hulle moet vir Ester antwoord en sê: “Jy moenie dink dat jy vry sal wegkom omdat jy in die koning se huisgesin is nie, jy sal saam met die ander Judeërs sterf.

14. Want as jy regtig wil stilbly in hierdie tyd, dan sal Iemand anders vir die Judeërs help. Hulle sal vry wegkom, maar jy en jou familie sal sterf. Hoekom dink jy het jy koningin geword? Miskien het dit gebeur sodat jy jou volk kan help in so ’n moeilike tyd.”

15. Ester het toe gesê hulle moet vir Mordegai gaan sê:

16. “Jy moet al die Judeërs in die stad Susan laat bymekaarkom en julle moet vas en dink aan my. Julle moet drie dae lank niks eet of drink nie, elke dag en nag. Ek en my jongmeisies sal ook vas, en daarna sal ek na die koning toe gaan. Dit is teen die wet, ek mag dit nie doen nie, maar as ek moet sterf, dan is dit goed.”

17. Mordegai het gegaan en hy het alles gedoen wat Ester gesê het.

Lees volledige hoofstuk Ester 4