Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 6:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Ek bid dat die God wat in daardie tempel woon, dit sleg sal laat gaan met elke koning en volk wat nie doen wat ek sê nie, met almal wat hierdie tempel probeer verwoes. Ek, Darius, sê dit, en hulle moet die tempel gou en goed bou.

13. Tattenai, die goewerneur van die provinsie Wes-Eufraat, en Setar-Bosnai en die ander amptenare saam met hulle het dadelik gedoen wat koning Darius in die brief gesê het.

14. Die leiers van die Judeërs het aangehou bou, en dit het goed gegaan. Dit was soos die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo gesê het. Die Judeërs het die tempel klaar gebou soos die God van Israel gesê het en soos koning Kores en koning Darius en koning Ahasveros van Persië gesê het.

15. Hulle het hierdie tempel klaargemaak op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar nadat Darius koning geword het.

16. Die Israeliete, die priesters en die Leviete, en die ander mense wat teruggekom het uit Babel, was baie bly toe hulle daardie tempel gewy het.

17. Hulle het 100 bulle, 200 skaap-ramme en 400 lammers ge-offer om daardie tempel te wy. Hulle het ook twaalf bok-ramme gebring om ’n sonde-offer te wees vir die hele volk Israel, vir die twaalf stamme.

18. Hulle het groepe priesters en Leviete gekies en aangestel om die werk van God in Jerusalem te doen. Hulle het dit gedoen soos geskryf is in die Boek van Moses.

19. Die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het, het die Paasfees gevier op die veertiende dag van die eerste maand.

20. Al die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, almal was rein. Hulle het die paaslam geslag vir almal wat teruggekom het uit Babel, hulle het dit geslag vir mekaar en vir hulleself.

21. Die Israeliete wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het, het die paaslam geëet, en ook almal wat opgehou het om die onrein dinge te doen wat die ander mense in die land gedoen het. Die mense wat opgehou het om die onrein dinge te doen, het die Here, die God van Israel, gedien saam met die Israeliete.

22. Hulle het die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank gevier. Hulle was bly, want die Here het hulle bly gemaak. Hy het die hart van die koning van Assirië verander. Die koning was toe goed vir hulle en hy het hulle gehelp om die werk te doen by die tempel van die God van Israel.

Lees volledige hoofstuk Esra 6