Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 10:3-13 Bybel vir Almal (ABA)

3. Ons moet nou vir ons God belowe dat ons al hierdie vroue en hulle kinders sal wegstuur. Meneer en almal wat die wette van ons God respekteer, moet dit besluit. Ons moet doen wat die Here wil hê.

4. Esra, jy moet opstaan, want dit is jý wat hierdie ding moet doen. Ons is by jou en ons sal jou help. Jy moet sterk wees en jy moet dit doen.”

5. Esra het opgestaan en hy het vir die leiers van die priesters en Leviete en al die ander Israeliete gesê hulle moet belowe dat hulle sal doen wat Sekanja gesê het. Hulle het dit belowe.

6. Esra het weggegaan van die tempel en hy het gegaan na die kamer van Joganan seun van Eljasib. Hy het daarnatoe gegaan, maar hy het nie geëet of gedrink nie, want hy het gerou omdat die mense ontrou was, die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het.

7. Hulle het ’n boodskap gestuur na almal in Juda en Jerusalem. Hulle het gesê die mense wat teruggekom het uit Babel, moet bymekaarkom in Jerusalem.

8. Die hoofde en die leiers het besluit dat almal moet kom, en dat hulle elkeen wat ná drie dae nog nie gekom het nie, sal wegjaag van die mense wat teruggekom het. Hulle sal ook sy goed vat.

9. Al die mans van Juda en Jerusalem het bymekaargekom voordat drie dae verby was. Dit was op die twintigste dag van die negende maand. Almal het op die oop stuk grond by die tempel gaan sit. Dit het gereën, en hulle het gebewe van die koue, maar ook omdat hulle bang was.

10. Die priester Esra het opgestaan en hy het vir hulle gesê: “Julle was ontrou. Julle het getrou met vroue wat nie Israeliete is nie, julle het die sonde van Israel meer gemaak.

11. Daarom moet julle nou bely voor die Here, die God van julle voorvaders. Julle moet doen wat Hy wil hê. Julle moet die ander mense in die land los, julle moet skei van die vroue wat nie Israeliete is nie.”

12. Die hele vergadering het geantwoord en hard gesê: “Ja, ons moet doen wat jy gesê het.

13. Maar hier is baie mense, en dit reën. Ons kan nie hier buite bly staan nie. En ons sal nie in een of twee dae alles kan doen wat jy sê nie, want baie van ons het hierdie sonde gedoen.

Lees volledige hoofstuk Esra 10