Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 45:5-18 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die ander stuk grond, 25 000 el lank en 10 000 el breed, is vir die Leviete wat by die tempel werk. Hulle 20 kamers moet daar wees.

6. Die grond waarop die stad moet staan, moet 5 000 el breed en 25 000 el lank wees. Hierdie grond moet langs die gewyde grond wees en dit moet aan al die Israeliete behoort.

7. Die regeerder moet grond kry langs altwee kante van die gewyde grond en die stad se grond, dit is by die westekant en by die oostekant. Dit moet so groot wees soos die grond wat een stam kry, die grond moet wees van die wesgrens van die land tot by die oosgrens.

8. Dit is die grond in die land Israel wat moet behoort aan die regeerder. Die regeerders van my volk mag nie meer my volk laat swaarkry nie. Hulle moet die land vir die stamme van die volk Israel gee.”

9. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Regeerders van Israel, julle moet nou ophou om slegte dinge te doen aan mense, julle moet ophou om hulle te verdruk. Julle moet regverdig wees en reg doen. Julle moet ophou om my volk se grond vir julleself te vat.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

10. “Julle moet weegskale hê wat reg meet en weeg, en wanneer julle ’n efa of ’n bat meet, dan moet dit reg wees.

11. Die efa en die bat moet dieselfde wees. Altwee moet een tiende van ’n homer wees. Die homer is die standaardmaat.

12. ’n Sikkel moet 20 gera wees, en ’n mine moet 60 sikkels wees.”

13. “Hier is die dinge wat julle vir die tempel moet gee: Julle moet een sesde van ’n efa koring gee van elke homer koring wat julle kry, en julle moet een sesde van ’n efa gars gee van elke homer gars wat julle kry.

14. Julle moet een tiende van ’n bat olyf-olie gee van elke kor olyf-olie wat julle kry. Daar is tien bat in ’n homer, en in ’n kor is daar ook tien bat.

15. Julle moet een skaap of bok gee uit elke trop van 200 skape of bokke op die weivelde van Israel, die weivelde waar daar baie water is. Alles wat julle gee, is vir die koring-offers, die brand-offers en die ete-offers. Die priesters moet met die offers versoening doen vir julle.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

16. “Al die mense van die land moet hierdie dinge gee. Hulle moet dit vir die regeerder van Israel gee.”

17. “Die regeerder moet dan hierdie goed gee om die brand-offers, die koring-offers en die drank-offers te wees. Hy moet dit gee op die feeste, die Nuwemaan-feeste, die Sabbatdae, op al die feestye van die volk Israel. Hy moet die goed gee vir die sonde-offers, die koring-offers, die brand-offers en die ete-offers. Die priesters moet daarmee versoening doen vir die volk Israel.”

18. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Op die eerste dag van die eerste maand moet jy ’n gesonde bul bring. Dit is die sonde-offer, die priesters moet die gewyde plek met die sonde-offer reinig.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 45