Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 39:16-28 Bybel vir Almal (ABA)

16. Daar sal later ook ’n stad wees wat daardie naam het. So sal die land weer rein word.”

17. “En jy, mens, die Here, Hy wat Here is, sê vir jou: Jy moet vir die voëls, vir alles wat vlieg, en vir al die wilde diere sê: Julle moet bymekaarkom. Julle moet van al die kante kom en julle moet rondom my fees-ete kom staan. Ek het vir julle die ete gereedgemaak, ’n groot ete op die berge van Israel. Julle moet vleis kom eet en bloed kom drink.

18. Julle sal die vleis van belangrike mense eet en julle sal die bloed drink van mense wat regeer op die aarde. Hulle is almal soos die skaap-ramme en die lammers en die bok-ramme en die bulle wat vet geword het in die land Basan.

19. Julle sal vet eet, meer as genoeg, en julle sal bloed drink totdat julle dronk is by die fees-ete wat Ek vir julle sal gereedmaak.

20. Julle sal meer as genoeg eet by die ete wat Ek gee. Julle sal die perde en die manne van die oorlogkarre eet, ook die soldate en almal wat oorlog gemaak het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

21. “Ek sal vir die volke wys dat Ek die Koning is. Al die volke sal sien dat Ek die vyande gestraf het, hulle sal sien dat Ek my hand op hulle gesit het.

22. En die volk Israel sal weet dat Ek hulle God die Here is, van daardie dag af, vir altyd.

23. Die ander volke sal weet dat die volk Israel gevangenes in ander lande geword het omdat hulle verkeerd gedoen het, omdat hulle ontrou was aan My. Daarom het Ek my gesig weggedraai van hulle en Ek het hulle vir hulle vyande gegee, sodat hulle almal in oorlog gesterf het.

24. Ek het hulle gestraf omdat hulle onrein en opstandig was, Ek het my gesig weggedraai van hulle.”

25. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Maar nou sal Ek dit weer goed laat gaan met die nageslag van Jakob, Ek sal weer goed wees vir die hele volk Israel, Ek sal wys dat Ek lief is vir my heilige Naam.

26. Hulle sal in hulle land woon en veilig wees, hulle sal vir niemand bang wees nie, maar hulle sal vir altyd skaam wees omdat hulle ontrou was aan My.

27. Ek sal hulle terugbring uit die ander volke en Ek sal hulle bymekaarmaak uit die lande van hulle vyande. Ek sal al die volke laat sien dat Ek die heilige God is.

28. Dan sal hulle weet dat Ek hulle God die Here is. Ek het hulle gevangenes laat word by die ander volke, maar Ek het hulle weer laat bymekaarkom in hulle eie land. Ek het nie een van hulle in die ander lande laat agterbly nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 39