Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 36:7-20 Bybel vir Almal (ABA)

7. Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek tel my hand op en Ek belowe dat Ek die volke rondom julle sal verneder.

8. En julle, Israel-berge, die bome op julle sal takke kry en vrugte dra vir my volk Israel, want my volk sal gou terugkom.

9. Ja, Israel-berge, Ek is hier by julle. Ek sal vir julle sorg. Mense sal werk en saai op julle.

10. Ek sal baie mense op julle laat woon, die hele volk Israel sal hier woon. Hulle sal die stede wat nou net hope klippe is, weer bou en hulle sal daar woon.

11. Ek sal die mense en die diere op julle baie laat word. Hulle sal baie word en vrugbaar wees. Ek sal mense op julle laat woon soos voorheen en Ek sal dit beter laat gaan met julle, beter as voorheen. Julle sal weet dat Ek die Here is.

12. Ek sal weer mense op julle laat loop, my volk Israel sal op julle loop. Hulle sal julle vir hulleself neem, en julle sal aan hulle behoort. Julle sal nie weer hulle kinders laat sterf nie.”

13. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Israel-berge, die mense sê julle eet mense op, hulle sê julle laat julle mense se kinders sterf.

14. Daarom sê Ek: Julle sal nie weer mense op-eet nie, julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

15. Die Here het gesê: “Ek sal keer dat die ander volke julle nie weer beledig en spot nie. Julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.”

16. Ek het gehoor die Here sê vir my:

17. “Mens, die volk Israel het voorheen in hulle land gewoon. Hulle het toe verkeerd gelewe en die land het onrein geword. Ek het gesien die dinge wat hulle doen, is so onrein soos ’n vrou wat menstrueer.

18. Ek het kwaad geword en Ek het hulle gestraf omdat hulle mense vermoor het in die land en omdat hulle die land onrein gemaak het met afgode.

19. Ek het hulle na al die kante toe gejaag tussen die volke in en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Ek het hulle gestraf oor die dinge wat hulle gedoen het.

20. Toe hulle daar by die ander volke kom, het hulle so gelewe dat die mense sleg gepraat het oor My. Die mense het gesê: ‘Dit is die Here se volk, maar hulle moes weggaan uit sy land.’

Lees volledige hoofstuk Esegiël 36