Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:25-33 Bybel vir Almal (ABA)

25. Ek is die Here, Hy wat Here is. Jy moet vir hulle sê dat Ek sê: Julle eet vleis wat nog vol bloed is, julle is lief vir julle afgode, julle vermoor mense. Dink julle Ek moet nou die land vir julle gee?

26. Julle wil al die probleme regmaak met die swaard, met oorlog, julle doen dinge wat Ek haat, julle maak mekaar se vroue onrein. Julle wil die land hê. Dink julle dit is reg? Nee.

27. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Die mense wat oorgebly het en wat daar tussen die hope klippe lewe, hulle sal in oorlog sterf. Ek gee die mense wat buite in die veld is, vir die wilde diere om op te vreet. En die mense wat wegkruip in die berge of in die grotte, sal van pes sterf. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.

28. Ek sal die land verwoes, daar sal niemand meer kan woon nie, daar sal niks oorbly van alles waarop hulle trots is en wat hulle beskerm nie. Niemand sal op die berge van Israel loop nie.

29. Hulle het dinge gedoen wat Ek haat. Daarom sal Ek die land verwoes sodat niemand daar kan woon nie. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.”

30. “En jy, mens, jou mense praat oor jou oral langs die mure en by die deure van die huise. Hulle sê vir mekaar: ‘Kom ons gaan hoor watter boodskap die Here vir ons gestuur het.’

31. Dan kom hierdie volk van My almal na jou toe en hulle kom sit voor jou. Hulle luister na wat jy sê, maar hulle doen dit nie. Hulle sê met hulle mond dat hulle lief is vir jou, maar in hulle harte voel hulle anders, hulle soek die dinge wat die beste is vir hulleself.

32. Jy is vir hulle soos iemand wat mooi sing, hy sing liedjies oor die liefde en hy speel op die lier. Hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen dit nie.

33. Maar die dinge wat jy sê, sál gebeur, dit is seker. En dan sal hulle onthou dat daar ’n profeet by hulle was.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33