Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, jy moet praat met die mense van jou volk, jy moet vir hulle sê: Wanneer Ek oorlog bring oor ’n land, dan sal die mense van die land een van hulle eie mense kies en hulle sal hom ’n wag maak vir hulle.

3. Wat moet die wag dan doen? Wanneer hy sien die vyande kom om die land aan te val, dan moet hy die ramshoring blaas en hy moet die mense waarsku.

4. Wanneer iemand die ramshoring hoor en hy doen niks, en die vyande kom en hulle maak hom dood, dan is dit sy eie skuld dat hy sterf.

5. Want hy het die ramshoring gehoor, maar hy het niks gedoen nie. Dit sal sy eie skuld wees dat hy sterf. As hy geluister het toe die wag hulle gewaarsku het, dan sou hy sy lewe gered het.

6. Maar wanneer die wag sien dat die vyande kom en hy blaas nie die ramshoring om die mense te waarsku nie, en die vyande kom en hulle maak iemand dood, dan sterf daardie persoon oor sy eie sonde. Maar Ek sal die wag straf omdat daardie persoon gesterf het.

7. Mens, Ek het jou gekies om die wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê dat jy hulle moet waarsku, dan moet jy dit doen.

8. Wanneer Ek vir iemand wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker, en jy praat nie en jy waarsku hom nie teen sy verkeerde lewe nie, dan is dit daardie persoon se eie skuld dat hy sterf. Maar Ek sal vir jóú straf oor sy dood.

9. Maar wanneer iemand verkeerd doen, en jy waarsku hom teen sy verkeerde lewe en jy sê vir hom hy moet ophou om verkeerd te lewe, maar hy doen dit nie, dan is dit daardie persoon se eie skuld dat hy sterf, jy sal onskuldig wees.

10. En jy, mens, jy moet vir die volk Israel sê: Julle sê: ‘Ons was opstandig en ons het baie sonde gedoen, so baie dat dit soos ’n swaar vrag is wat ons moet dra. Ons het klaar begin om stadig te sterf, ons kan nie aanhou lewe nie.’

11. Mens, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek wil nie hê dat die mens wat verkeerd doen, moet sterf nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Ek wil hê hy moet ophou verkeerd doen sodat hy kan aanhou lewe. Israel, julle moet ophou verkeerd doen, julle moet ophou. Hoekom wil julle sterf?

12. En jy, mens, jy moet vir jou mense sê: Wanneer iemand altyd reg gelewe het, en hy word later opstandig teen My, dan sal dit nie help dat hy voorheen reg gelewe het nie. En wanneer iemand altyd verkeerd gedoen het, en hy hou op om verkeerd te doen, dan sal Ek hom nie straf nie. ’n Mens wat altyd reg gelewe het en wat dan begin sonde doen, sal nie aanhou lewe nie.

13. As ’n persoon altyd reg gelewe het, en Ek sê hy sal aanhou lewe, dan moet hy nie dink dít sal hom red nie, dan moet hy nie verkeerde dinge begin doen nie, want as hy verkeerd begin lewe, dan sal Ek nie dink aan die tyd toe hy reg gelewe het nie. Hy sal sterf omdat hy verkeerd gedoen het.

14. As ’n persoon altyd verkeerd gedoen het, en Ek sê vir hom hy sal sterf, dit is seker, en hy hou op om sonde te doen en hy doen reg en hy lewe reg, dan sal hy aanhou lewe, hy sal nie sterf nie.

15. Wanneer ’n persoon iets teruggee wat hy geneem het omdat iemand hom nie kon betaal nie, wanneer hy die goed teruggee wat hy by ander mense gevat het, wanneer hy lewe soos Ek wil hê en hy doen nie verkeerd nie, dan sal hy lewe, hy sal nie sterf nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33