Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 29:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het met my gepraat. Dit was in die tiende jaar, in die tiende maand, op die twaalfde dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, jy moet jou gesig draai na die farao toe, die koning van Egipte. Jy moet ’n boodskap van My vir hom bring en vir almal in die land Egipte.

3. Jy moet praat en vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Farao, koning van Egipte, Ek is jou vyand. Jy is die groot watermonster wat in sy eie rivier lê en wat sê: ‘Dit is my rivier, ék het dit gemaak.’

4. Ek sal ysterhoeke aan jou kakebeen sit en Ek sal die visse in jou rivier laat vassit aan jou skubbe. Dan sal Ek jou uit jou rivier optrek saam met al jou rivier se visse wat vassit aan jou skubbe,

5. en Ek sal jou en die visse van jou rivier in die woestyn weggooi. Jy sal op die grond val, en niemand sal jou stukke bymekaarmaak en op een plek sit nie. Ek gee jou vir die wilde diere en die voëls, hulle sal jou opvreet.

6. Almal wat in Egipte woon, sal weet dat Ek die Here is. Die volk Israel het gedink die Egiptenaars sal hulle help, maar die Egiptenaars was soos ’n kierie van riet vir die volk Israel.

7. Toe Israel die kierie vat, toe breek die kierie en dit sny sy skouer. Toe Israel op die kierie wou rus, toe breek die kierie stukkend en hulle kon nie regop staan nie.”

8. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal nou oorlog na jou land stuur omdat dit gebeur het. Ek sal al die mense en die diere in Egipte laat sterf.

9. Egipte sal ’n plek word waar daar nie mense woon nie, die land sal net hope klippe wees. Hulle sal weet dat Ek die Here is, want die farao het gesê: ‘Dit is mý rivier, dit is ék wat hom gemaak het.’

10. Daarom is Ek jou vyand en jou rivier se vyand. Ek sal Egipte verwoes, niemand sal daar kan woon nie, van die stad Migdol tot by die stad Sewene en tot by die grens van die land Kus.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 29