Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 21:26-32 Bybel vir Almal (ABA)

26. Die Here, Hy wat Here is, sê vir die koning van Israel: “Jy moet jou tulband en jou kroon afhaal. Niks sal dieselfde bly soos dit nou is nie. Almal wat nie belangrik is nie, sal nou belangrik word, en almal wat belangrik is, sal nou onbelangrik word.

27. Ek sal die stad laat afbreek, daar sal net hope klippe oorbly van die stad, net hope klippe, net hope klippe. Maar Ek sal wag totdat die man kom wat die stad moet straf. Ek sal die stad vir hom gee.

28. En jy, mens, jy moet my boodskap bring, jy moet vir die mense sê: Die Here, Hy wat Here is, praat met die Ammoniete wat met sy volk gespot het. Jy moet vir die swaard sê: Swaard, swaard, Ek het jou uit jou leersak gehaal om mense dood te maak, Ek het jou blink gevryf om mense dood te maak en om te blink.

29. Mense het gesê Ek het vir hulle gewys wat Ek met jou sal doen, maar dit is nie waar nie. Die tekens wat hulle gesien het, is vals. Swaard, Ek sal jou gebruik en Ek sal die nekke afkap van die mense wat moet sterf, die mense wat verkeerde dinge doen. Hulle laaste dag het gekom, die tyd het gekom om hulle die laaste maal te straf.

30. En dan moet die swaard teruggaan na sy leersak. Jy, koning van Babel, jy is my swaard, jy moet teruggaan na jou land. Ek sal jou straf op die plek waar Ek jou gemaak het, in die land van waar jy kom.

31. Ek is baie kwaad vir jou, my asem is soos vuur wat jou sal brand. Ek sal jou gee vir wrede mense wat weet hoe om dood te maak.

32. Die vuur sal jou brand en jou bloed sal op die grond val. Niemand sal jou onthou nie, want Ek het gepraat, Ek, die Here.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 21