Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek was tussen die Judeërs by die Kebar-kanaal in die land Babel. Die hemel het oopgegaan, en God het vir my dinge gewys. Dit was in die 30ste jaar, op die vyfde dag van die vierde maand.

2. Dit was in die vyfde jaar nadat die Babiloniërs vir koning Jojagin gevang het en hom weggevat het na die land Babel. Op die vyfde dag van die maand

3. het ek, die priester Esegiël, seun van Busi, duidelik gehoor die Here praat met my. Dit was in Galdeër-land, by die Kebar-kanaal. Ek het gevoel die Here sit sy hand op my.

4. Ek het gekyk en ek het gesien daar kom ’n stormwind uit die noorde. Daar was ’n groot wolk, en rondom die wolk het vuur gebrand en die vuur het helder geskyn. Daar was iets in die vuur wat geblink het en wat soos metaal geskyn het.

5. Vier diere het uit die blink metaal gekom, en dit is hoe hulle gelyk het: Hulle was soos mense,

6. maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad.

7. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos brons wat iemand blink gevryf het. Hulle voete het gelyk soos ’n bees se pote.

8. Onder elkeen se vier vlerke, langs die vier kante, was hande, dit het gelyk soos ’n mens se hande. Die vier diere het almal gesigte en vlerke gehad.

9. Elke dier se vlerke het geraak aan die vlerke van die dier langs hom. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. Elke dier het reguit vorentoe beweeg.

10. Elke dier het vier gesigte gehad. Voor was die gesig van ’n mens, regs was die gesig van ’n leeu, links was die gesig van ’n bul en agter was die gesig van ’n arend.

11. Elke dier se boonste vlerke was oop en dit het geraak aan die vlerke van die twee diere links en regs langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak.

12. Elke dier het reguit vorentoe beweeg. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet gaan. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie.

13. Die vier diere het gelyk soos kole vuur, en hulle het ook gelyk soos die fakkels wat heen en weer tussen hulle gaan. Die vuur het helder geskyn, en daar het weerlig uit die vuur gekom.

14. Die diere het vinnig heen en weer gegaan soos weerlig.

15. En terwyl ek so na hulle kyk, sien ek ’n wiel op die grond langs elkeen van die vier diere.

16. Dit het gelyk of die wiele van chrisoliet gemaak was. Die wiele was almal dieselfde, en in elke wiel was daar nog ’n wiel, daardie wiel was dwars.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1