Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8:5-21 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê: “Hou jou kierie oor al die plekke waar daar water is, sodat daar oral in Egipte paddas kan kom.”

6. Aäron het sy hand oor die water van Egipte gehou. Baie paddas het toe uit die water gekom, so baie dat ’n mens nie die grond in Egipte kon sien nie.

7. Maar die towenaars het dieselfde gedoen, hulle het ook baie paddas oor Egipte laat kom.

8. Die farao roep toe vir Moses en Aäron en hy sê: “Julle moet bid en vir die Here vra Hy moet die paddas wegvat van my en my mense. Dan sal ek die Israeliete laat gaan, sodat hulle vir die Here offers kan bring.”

9. Moses het vir die farao gesê: “Sê jy vir my wanneer ek vir die Here moet vra om die paddas weg te vat van jou en jou amptenare en jou mense, uit almal se huise uit. Dan sal net die paddas in die Nyl-rivier oorbly.”

10. Die farao het gesê: “Môre.”Toe sê Moses: “Dit sal gebeur soos jy sê, sodat jy kan weet daar is nie nóg ’n god soos ons God, die Here, nie.

11. Die paddas sal weggaan van jou en van jou huise en van jou amptenare en van jou mense. Net die paddas in die Nyl-rivier sal oorbly.”

12. Moses en Aäron het van die farao af weggegaan. Moses het gebid en vir die Here gevra dat Hy die paddas moet wegvat wat Hy gestuur het om die farao te straf.

13. Die Here het gedoen wat Moses gevra het. Al die paddas het gevrek, die paddas in die huise, die paddas buite die huise en die paddas in die veld.

14. Die mense het die paddas bymekaargemaak en alles opmekaar gegooi. Die land het gestink.

15. Maar toe die farao sien die paddas is weg, het hy weer hardkoppig geword. Hy het nie na Moses en Aäron geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.

16. Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê: “Slaan met jou kierie op die grond. Die stof sal dan in muggies verander, en Egipte sal vol muggies wees.”

17. Moses en Aäron het dit gedoen. Aäron het met sy kierie op die grond geslaan. Die stof het in muggies verander en hulle het oral op die mense en die diere gaan sit. Al die stof in die hele Egipte het in muggies verander.

18. Die towenaars het probeer om dieselfde te doen. Hulle wou ook die stof in muggies verander, maar hulle kon nie. Die muggies was op al die mense en al die diere.

19. Die towenaars sê toe vir die farao: “Dit is God wat die muggies gestuur het!”Maar die farao was hardkoppig, hy het nie na hulle geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.

20. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan môre-oggend vroeg en wag vir die farao wanneer hy na die rivier kom. Sê vir hom die Here sê hy moet die Israeliete laat gaan sodat hulle Hom kan dien.

21. As hy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek steekvlieë stuur. Die steekvlieë sal op die farao, op sy amptenare, op sy mense en in hulle huise wees. Die huise van die Egiptenaars sal vol steekvlieë wees, ook die hele land.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 8