Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het vir die Here gesê: “Miskien sal die Israeliete my nie glo nie en nie na my luister nie. Hulle sal sê: ‘Die Here het nie aan jou verskyn nie.’ ”

2. Toe sê die Here vir hom: “Wat is in jou hand?”En Moses sê: “’n Kierie.”

3. Die Here sê toe vir hom: “Gooi dit op die grond.”Moses het die kierie op die grond gegooi, en die kierie het in ’n slang verander. Moses het weggespring van die slang.

4. Toe sê die Here vir Moses: “Gryp die slang aan sy stert.”Moses het die slang gegryp, en toe het die slang in sy hand weer in ’n kierie verander.

5. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dit weer doen as jy by die Israeliete kom, sodat hulle kan glo dat die Here aan jou verskyn het. Ek is die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.”

6. Die Here het ook vir hom gesê: “Sit jou hand voor in jou klere.”Moses het dit gedoen, en toe hy sy hand uittrek, was sy hand melaats, so wit soos sneeu.

7. Die Here sê toe vir hom: “Sit weer jou hand voor in jou klere.”Moses het dit gedoen, en toe hy sy hand uit sy klere haal, was dit gesond, soos sy hele liggaam.

8. Toe sê die Here: “As hulle jou nie glo ná die eerste teken nie, dan sal hulle glo nadat hulle hierdie tweede teken gesien het.

9. As hulle ná hierdie twee tekens nog nie glo nie en nie na jou luister nie, dan moet jy van die water van die Nyl-rivier neem en jy moet dit op die grond uitgooi. Die water wat jy op die grond gooi, sal in bloed verander.”

10. Maar Moses het vir die Here gesê: “Asseblief, Here, ek kan nie goed praat nie. Ek kon nog nooit goed praat nie. Ek kan ook nie beter praat nadat U met my gepraat het nie. Ek praat swaar, my tong sukkel om te praat.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4