Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 3:10-22 Bybel vir Almal (ABA)

10. Ek wil jou na die farao toe stuur om my volk, die Israeliete, uit Egipte te bring.”

11. Moses het vir God gesê: “Ek is nie ’n belangrike man nie. Ek kan nie na die farao toe gaan en die Israeliete uit Egipte bring nie.”

12. Maar God het gesê: “Ek sal by jou wees en Ek sal vir jou ’n teken gee om te bewys dat Ek jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gebring het, dan sal julle My op hierdie berg kom dien.”

13. Toe sê Moses vir God: “Ek sal by die Israeliete kom en ek sal vir hulle sê: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur.’ Maar hulle sal vir my vra: ‘Wat is sy Naam?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”

14. Toe sê God vir Moses: “My Naam is: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.”

15. God het ook vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Die Here het my na julle toe gestuur. Hy is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ My Naam sal altyd ‘die Here’ wees. Hulle moet My altyd so noem, ook die mense wat later gebore sal word.

16. Gaan maak die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle die Here, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan jou verskyn en gesê: ‘Ek weet van julle, Ek sien wat die Egiptenaars aan julle doen.

17. Ek het besluit Ek wil julle wegvat uit Egipte. Julle kry daar baie swaar. Ek wil julle laat gaan na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete, dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is.

18. Die leiers sal na jou luister, en dan moet jy en die leiers van die Israeliete na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: “Die Here, die God van die Hebreërs, het met ons gepraat. Laat ons asseblief in die woestyn ingaan, so ver soos ’n mens in drie dae kan loop. Ons wil daar vir ons God die Here offers bring.”

19. Ek weet die koning van Egipte sal julle nie laat gaan nie. Hy sal dit ook nie doen as Ek hom straf nie.

20. Dan sal Ek hom nog swaarder straf en Ek sal wonderwerke doen wat die Egiptenaars baie swaar sal laat kry. Daarna sal die koning julle laat gaan.

21. Ek sal dan die Egiptenaars vriendelik maak teenoor julle, sodat julle iets sal hê om saam te neem wanneer julle weggaan.

22. Elke Israelitiese vrou moet silwergoed, goue goed en klere vra vir haar Egiptiese buurvrou of vir die mense wat by haar woon. Julle moet dit vir julle seuns en dogters gee om te dra. So moet julle die Egiptenaars se goed wegdra.’ ”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 3