Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29:12-26-27 Bybel vir Almal (ABA)

12. Neem ’n bietjie van die bul se bloed en smeer dit met jou vingers aan die horings van die altaar. Gooi dan al die bloed uit teen die voet van die altaar.

13. Julle moet al die vet wat aan die bul se binnegoed is, op die altaar verbrand, en ook die onderste punt van die lewer, en die niere en die vet wat daaraan is.

14. Julle moet die bul se vleis verbrand buite die kamp. Verbrand dit saam met die vel en die gras wat in die pens is. Dit is ’n sonde-offer.”

15. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet een skaap-ram neem, en dan moet Aäron en sy seuns hulle hande op die ram se kop sit.

16. Slag dan die ram en spat van sy bloed op die altaar.

17. Julle moet die ram in stukke sny. Was die binnegoed en die pote en sit dit alles by die stukke vleis en die kop.

18. Verbrand dan alles op die altaar. Dit is ’n brand-offer, ’n vuur-offer. Ek hou daarvan.”

19. “Aäron en sy seuns moet dan hulle hande op die ander ram se kop sit.

20. Slag die ram en neem ’n bietjie van sy bloed. Smeer dit aan Aäron en sy seuns se regter-ore, aan hulle regter-duime en aan hulle regter-groottone. Spat van die bloed op die altaar.

21. Neem ’n bietjie van die bloed wat op die altaar is, en van die salf-olie, en spat dit op Aäron en op sy klere. Spat ook daarvan op sy seuns en op hulle klere. Dan sal Aäron en sy seuns en hulle klere gewy wees.

22. Neem die vet en die stertvet van die ram, die vet wat aan die ram se binnegoed is, en ook die onderste punt van die lewer, en die twee niere en die vet wat daaraan is, en die regter-boud.

23. Neem ook een rondebrood, een oliekoek en een roosterkoek uit die mandjie waarin die ongesuurde brood is wat julle gebring het om vir My te offer.

24. Sit dit alles op die hande van Aäron en sy seuns. Hulle moet dit heen en weer beweeg voor My. Dit is ’n beweeg-offer.

25. Neem dit dan uit hulle hande en verbrand dit op die altaar saam met die brand-offer. Dit is ’n vuur-offer, Ek hou daarvan.”

26-27. Die Here het vir Moses gesê: “Neem dan die bors van die skaap-ram wat julle geslag het om Aäron te wy, en beweeg dit voor My. Dit is ’n beweeg-offer. Julle moet die bors van die beweeg-offer vir Aäron en sy seuns gee om te eet, en ook die boud wat julle vir My present gegee het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 29