Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 24:4-17 Bybel vir Almal (ABA)

4. Moses het toe al die woorde van die Here neergeskryf en vroeg die volgende oggend ’n altaar gebou by die voet van die berg. Daar was twaalf gedenkstene, een vir elke stam van die Israeliete.

5. Moses het die Israeliete se jongmanne gestuur, en hulle het brand-offers vir die Here gebring. Daar was ook bulle vir ete-offers.

6. Moses het die helfte van die bloed geneem en hy het dit in bakke gegooi. Hy het die ander helfte van die bloed teen die kant van die altaar uitgegooi.

7. Hy het die boek geneem waarin hy alles geskryf het oor die verbond wat die Here met hulle gemaak het. Hy het dit vir die mense gelees, en hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het, ons sal gehoorsaam wees.”

8. Moses neem toe die bloed wat in die bakke was en gooi dit op die mense en sê: “Hierdie bloed bewys dat julle belowe om die verbond te hou wat die Here met julle gemaak het.”

9. Moses en Aäron, Nadab en Abihu en 70 leiers van die Israeliete het teen die berg opgegaan.

10. Hulle het die God van die Israeliete gesien. Onder sy voete was ’n vloer van saffier. Dit was so blou soos die lug.

11. Die Here het nie die leiers van die Israeliete laat sterf nie. Hulle het God gesien en toe het hulle geëet en gedrink.

12. Die Here het vir Moses gesê: “Kom teen die berg op na My toe en wag hier. Ek sal vir jou die plat klippe gee waarop Ek die wette geskryf het. Jy moet dit vir die mense leer.”

13. Moses en Josua, sy helper, het toe gereedgemaak en Moses het opgegaan teen die berg van God.

14. Hy het vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons totdat ons terugkom na julle toe. Aäron en Hur is by julle. As iemand ’n probleem het, dan moet hy na Aäron en Hur toe gaan.”

15. Moses het teen die berg opgegaan, en ’n wolk het oor die hele berg gekom.

16. Die lig wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn, was op Sinai-berg, en die wolk was ses dae lank oor die berg. Op die sewende dag het die Here uit die wolk vir Moses geroep.

17. Dit het vir die Israeliete gelyk soos ’n groot vuur bo-op die berg.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 24