Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23:6-20 Bybel vir Almal (ABA)

6. “Jy moet in die hof reg doen aan ’n arm mens.

7. Jy moenie luister na leuens nie, want dan sal jy miskien ’n onskuldige mens laat doodmaak. Ek, die Here, sal nooit sê ’n skuldige mens is reg nie.

8. Mense gee partymaal vir jou ’n present en dan wil hulle hê jy moet sê hulle is reg. Jy mag nie die present neem nie, want dit laat jou verkeerd sien en verkeerd dink. Dan doen jy nie reg aan mense wat onskuldig is nie.

9. Jy mag nie slegte dinge doen aan ’n vreemdeling nie. Julle weet self hoe hy voel, want julle was ook vreemdelinge in Egipte.”

10. “Julle moet ses jaar lank op julle grond saai en die koring of die gars bymekaarmaak.

11. In die sewende jaar moet julle die grond los, julle moenie dan in die grond werk en die koring of die gars afsny nie, sodat die arm mense iets kan kry om te eet. En as die arm mense iets laat oorbly, dan kan die wilde diere dit eet. Julle moet dieselfde doen met julle wingerde en julle olyfbome.

12. Julle moet ses dae lank julle werk doen, maar op die sewende dag moet julle nie werk nie. Dan kan julle beeste en julle donkies rus, en ook julle slawe en die vreemdelinge.”

13. “Julle moet gehoorsaam wees en alles doen wat Ek vir julle gesê het, julle moet dit presies so doen. Julle mag nie tot ander gode bid nie. Julle mag nooit van ander gode praat nie.”

14. “Julle moet elke jaar drie feeste vir My vier.

15. Die eerste fees is die Fees van die Ongesuurde Brood. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet soos Ek vir julle gesê het. Julle moet die fees altyd op dieselfde dag van die maand Abib vier, want in hierdie maand het julle uit Egipte gekom. Julle almal moet dan vir My ’n offer bring.

16. “Julle moet ook ’n Oesfees vier wanneer julle die ryp koring begin afsny. Die derde fees is die fees aan die einde van die jaar, wanneer julle klaar gewerk het en die tyd verby is wanneer julle die koring afsny.

17. Al die mans moet elke jaar op hierdie drie feeste na My toe kom om My te aanbid.”

18. “Julle mag nie die bloed van ’n dier wat julle vir My offer, saam met suurdeeg offer nie. Julle mag ook nie die vet van ’n dier wat julle offer, los tot die volgende oggend nie.

19. Wanneer julle begin om koring af te sny en vrugte te pluk, dan moet julle die beste koring en vrugte bring na die tempel van julle God die Here. Julle mag nie ’n bok-lam in sy ma se melk kook nie.”

20. “Ek stuur ’n engel voor julle om julle op te pas op die pad en om julle te bring na die plek wat Ek vir julle gereedgemaak het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 23