Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23:21-31 Bybel vir Almal (ABA)

21. Julle moet goed luister na wat die engel sê. Julle moenie opstandig wees nie, want hy sal julle nie vergewe as julle verkeerd doen nie. Die engel kom om te doen wat Ek wil doen.

22. As julle goed luister na hom en alles doen wat Ek sê, dan sal Ek teen julle vyande veg. Ek sal teen almal wees wat teen julle is.

23. My engel sal julle lei en hy sal julle bring by die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete en Hewiete. Dan sal Ek hulle doodmaak.

24. Julle mag nie voor hulle gode buig nie, julle mag nie hulle gode aanbid nie. Julle mag nie dieselfde doen wat daardie mense doen nie. Julle moet hulle klip-pale afbreek en stukkend kap.

25. Ek is julle God die Here, en as julle My dien, dan sal Ek julle seën sodat julle baie water en kos sal hê. Julle sal ook nie siek word nie.

26. Nie een vrou in julle land sal haar kind verloor terwyl sy swanger is nie, en almal sal kan kinders kry. Julle sal baie oud word.

27. Al die volke by wie julle kom, sal skrik vir My. Ek sal hulle wegjaag en al julle vyande sal weghardloop van julle.

28. Ek sal die Hewiete en Kanaäniete en Hetiete bangmaak vir julle, so bang soos vir perdebye. Ek sal daardie volke wegjaag voor julle.

29. Ek sal hulle nie almal in een jaar wegjaag voor julle nie, want dan sal daar niemand in die land woon nie en die wilde diere sal dan baie meer word as julle.

30. Ek sal elke maal ’n klomp van die mense wegjaag voor julle. Dan kan julle baie word en die land vat.

31. Julle mag woon van die Riet-see tot by die Filistynse See, en van die woestyn tot by die Eufraat-rivier. Ek sal julle help om die mense te oorwin wat in die land woon. Ek sal hulle wegjaag voor julle.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 23