Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:15-25 Bybel vir Almal (ABA)

15. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet oormôre gereed wees, en julle moenie by ’n vrou slaap nie.”

16. Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderweer en weerlig en ’n donker wolk op die berg. Die Israeliete het gehoor iemand blaas die ramshoring baie hard. Almal in die kamp was baie bang en hulle het gebewe.

17. Moses het die mense uit die kamp gebring om God te ontmoet, en hulle het by die voet van die berg gaan staan.

18. Die hele Sinai-berg was vol rook omdat die Here in ’n vuur afgekom het op die berg. Die rook het in die lug opgetrek soos die rook van ’n oond, en die hele berg het baie gebewe.

19. Die ramshoring het aangehou raas, en die geraas het baie hard geword. Moses het gepraat, en God het hom geantwoord, sy antwoord was soos donderweer.

20. Die Here het afgekom op Sinai-berg. Hy was op die berg en Hy het vir Moses na Hom toe geroep. Moses het gegaan,

21. en die Here het vir hom gesê: “Gaan af en waarsku die mense. Sê hulle moenie opklim na My toe nie. Die mense wat na My kyk, sal sterf.

22. Ook die priesters wat vir My offers bring, moet hulleself reinig, anders sal Ek hulle laat sterf.”

23. Moses het vir die Here gesê: “Die mense mag nie opgaan teen Sinai-berg nie. U het ons gewaarsku om nie op te gaan teen die berg nie, want die berg is gewyd.”

24. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan nou af en bring vir Aäron saam met jou terug. Maar die priesters en die ander mense mag nie opklim na My toe nie, want dan sal Ek hulle laat sterf.”

25. Moses het toe afgegaan na die mense toe en hy het alles vir hulle vertel.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19